Dr. Dion Theys in die getuiebank.

Foto: Charné Kemp

Dr. Dion Theys, waarnemende hoof van die Noord-Kaapse departement van gesondheid wat van oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) aangekla word, het Donderdag 26 Mei met die staat saamgestem dis “hoogs eienaardig” dat ondersteunende dokumente vir duur losieskontrakte vermis is.

Theys (56), wat deur advv. Moss Mphaga SC en Jerry Modiba verteenwoordig is, het sy getuienis in die spesiale handelshof in Kimberley in sy eie verdediging afgesluit.

Die staat voer aan Theys het 13 jaar gelede, toe hy ook die waarnemende Noord-Kaapse departementshoof was, oortredings van die PFMA begaan. Theys het glo drie kontrakte van R96 miljoen met Hennie van Vuuren aangegaan vir studenteverpleegsters se verblyf in ’n gebou by Hoffe Park sonder dat wetlike voorskrifte gevolg is. Kontrakte moet billik, regverdig, deursigtig, mededingend en kostebesparend wees om ongemagtigde, onreëlmatige en vrugtelose misdadige uitgawes te bekamp.

In sy hoofgetuienis het Theys aangevoer dat in die tydperk vanaf 1 Oktober 2009 tot 31 Maart 2012 wat hy die pos beklee het, slegs R13 miljoen op die kontrakte bestee is. Die res is deur sy opvolger Gugu Matlaopane op studentebehuising uitgegee.

Hoffe Park was die enigste geriewe wat aan die voorskrifte van die Nasionale Raad vir Verpleegkunde voldoen het. Die aanvanklike R120 per persoon was goeie waarde vir geld want studente het drie etes per dag, wasgoedgeriewe, sekuriteit, vervoer en Wi-Fi gehad, het Theys aangevoer. Alles was onder een dak en vervoer na die hospitaal maklik.

“Ek as die beskermheer het omgesien na kwesbare jong studente, sommige so jonk as 17 jaar, wat uit landelike gebiede na Kimberley gekom het. Ek sou myself nooit kon vergewe as een van hulle verkrag of selfs gedood is weens swak sekuriteit nie.”
Dr. Dion Theys

Hoewel hy pa staan vir die departement se geldbesteding “is dit verkrygingsamptenare wat ondersoeke doen en ondersteunende dokumente voorberei vir kontrakte.

“Ek steun op die bevoegde finansiële hoof, regsafdeling en amptenare om hul werk te doen, waarna ek my handtekening aanbring. Hulle berei motiverings vir afwykings van vereiste verkrygingsprosedures voor.”

In kruisondervraging het dit adv. Isaac Mpela, aanklaer, en Theys “dronkgeslaan” dat amptenare by die departement en die provinsiale tesourie net die kontrakte en enkele dokumente aan die ondersoekbeampte kon verskaf. Theys het dit as “kwaadwillig” en “sabotasie” bestempel dat net dokumente wat die “staat se saak ondersteun” vir die hof beskikbaar is. Die vermiste ondersteunende dokumente sou besluite en afwykings verduidelik.

Theys het vele kere aangevoer hy gaan “hope” dokumente wat daagliks op sy lessenaar beland, deeglik na voordat hy iets onderteken. Geen amptenaar het ooit onreëlmatighede vir hom uitgewys nie.

Ondanks sy hoofgetuienis dat die ouditeur-generaal (OG) destyds nie negatiewe bevindinge gemaak het nie, het hy toegegee die OG het in die verslag vir die 2009-’10-boekjaar sekere bevindings oor onreëlmatige uitgawes gemaak. Theys moes ook toegee dat die verskaffing van Wi-Fi-dienste nie in die kontrak voorkom nie.

Die drie kontrakte het afsonderlik funksioneer, wat volgens hom toelaatbaar is. Dit is aan hom gestel meerdere kontrakte in dieselfde tydperk aan dieselfde diensverskaffer is onwettig. Addendums tot die oorspronklike kontrak is meer aanvaarbaar.

Adv. Mpela het aangevoer dit is swak finansiële praktyk om ’n betaling te magtig vir ’n faktuur waarop dienste aan ’n “groep” gelewer is, eerder as aan ’n spesifieke getal studente. Hoewel Theys vingers na amptenare gewys het, het Mpela hom herinner dat die verantwoordelikheid by hom eindig.

Die derde kontrak wat reeds van 1 Julie 2011 geldig was, is eers in November 2011 onderteken. Theys het toegegee dit is onreëlmatig dat betalings gedoen is sonder ’n bindende kontrak, hoewel hy “seker is verduidelikings het bestaan”. Dit was egter baie lank gelede.

Mpela het aangevoer sy antwoorde laat meer vrae ontstaan.

Die betoë en streeklanddros Vernon Smith se uitspraak is onderskeidelik op 4 en 16 Augustus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article