Gemeenskapslede het Vrydag 26 Mei ’n Kimberleyse landdros versoek om nie borgtog toe te staan aan ’n man wat sy vrou en kinders na bewering “emosioneel, fisiek en geestelik“ mishandel het nie.
Die man (in sy dertigs) se identiteit mag nie bekend gemaak word nie om sy gesinslede te beskerm.
Die voorval het vroeër vandeesmaand by hul huis gebeur toe hy sy lewensmaat na bewering aan die hare geruk, gewurg, teen ’n kas vasgedruk en met die dood gedreig het. Hy is vyf dae later in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.
AO Attie Brouwers, ondersoekbeampte, het verlede week in die man se borgtogaansoek getuig en die verklaring van die slagoffer voorgelees. Hy staan tereg op agt aanklagte van onder meer aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging tot moord.
Op ’n tydstip het hy haar gedwing om in ’n ander dorp te gaan bly. Toe sy toegelaat is om terug te keer, mag sy nooit saam met die gesin aan tafel eet nie. Sy moes in die kombuis met ’n voorskoot werk. Soggens het sy om 04:30 opgestaan om die huis skoon te maak. Teen 06:30 moet ontbyt gereed wees, waarna sy tuisonderrig aan die kinders moet gee. Daarna moes sy sy onderneming se boekhouding doen.
Saterdae was Sabbat wanneer sy en een kind kopdoeke moes dra. Hy sou glo kaalbolyf met ’n glas whiskey in die een hand en ’n sigaret in die ander uit die King James Bybel preek. Hulle moes Bybelverse oor en oor voorlees en aantekeninge maak. Hy het gesê dat hy, soos die Bybel beskryf, ook ’n harem vroue kan aanhou.
Hy sou na bewering gereeld vir haar sê sy is ’n “k*k slegte vrou” en dat hy haar “gesig wou rearrange”. Sy moes ook skelm eet omdat hy gereeld gesê het sy moet gewig verloor.
Die slagoffer is bevrees die kind haal eendag die man se streke uit. Hy sou glo in die verbyloop die kind deur die gesig klap. As die kind huil, sou hy sê die “lewe is hard, die kind is ’n moffie”. Die kinders mag nooit soetgoed eet of koeldrank drink nie, net water.
Op die dag van die voorval het sy eers geld by die bank in haar naam belê. Terug by die kantoor het hy gesê sy respekteer hom nie en het hy glo haar aangerand. Later het hy na bewering gesê sy het twee keuses. Sy kan ”vriendelik f****f” of die “harde pad” kies. Sy het haar handsak en toiletware gegryp, maar hy wou nie haar bakkie wat hy vir haar gegee het, se sleutels oorhandig nie. Haar suster het haar kom haal.
Sy is oortuig dat niks hom sal keer om hulle op te spoor en haar dood te maak nie.
Brouwers het getuig die man het ’n paspoort, en dat die paartjie ’n paar jaar gelede in Thailand was. Ses vuurwapens is in die huis gevind, tesame met ongeveer 3 000 rondtes ammunisie wat nog nie klaar getel is nie.
Die beampte het ’n brief van vier gemeenskapsgroepe voorgelees wat eis dat borgtog geweier word.
Goitse Paul Modimo, aanklaer, staan die borgtogaansoek teen. Adv. Sakkie Nel verteenwoordig die beskuldigde.
Landdros Jomari du Toit het die borgtogaansoek tot Woensdag 31 Mei uitgestel.





