Vyf mans wat daarvan aangekla word dat hulle 222 kg koperkabels van Eskom by Heuningvlei gesteel het, het verlede week in die Mothibistad-landdroshof verskyn.
Vier van die beskuldigdes het tydens die hofverskyning op 22 Mei borgtog van R500 elk ontvang, terwyl borgtog vir die vyfde beskuldigde geweier is.
Volgens lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, is Abdul Sakoor, Jackson Mojorosi, Thato Motlhanke en Earnest Malefane die vier beskuldigdes wat borgtog ontvang het. Patrick Dube bly in aanhouding.
Die beskuldigdes, wat vanaf 33 jaar tot 60 jaar oud is, is op 12 Mei in hegtenis geneem toe hulle in die veld naby ’n Eskom-substasie, in die omgewing van die Morokweng-nedersetting by Heuningvlei, opgemerk is.
Sekuriteitswagte van Eskom het die polisie gekontak en die verdagtes agterna gesit. Die verdagtes is nie ver van die toneel af in hegtenis geneem nie.
Die polisie het beslag gelê op gereedskap, insluitend ‘n slypmasjien, tange, skroewedraaiers, messe, asook twee Ford Ranger-bakkies.
Verdere ondersoek het tot die ontdekking van sewe rolle koperdraad in die veld naby die substasie gelei. Die waarde hiervan is ongeveer R40 000.
Die provinsiale polisiekommissaris, lt. genl. Koliswa Otola, sê dat die peuter aan en vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur een van die misdade is waaraan sy voorkeur gee.
Sy het die lede van Heuningvlei se sigbare polisiëringseenheid, asook Eskom se veiligheidsdienste, vir vinnige reaksie geloof.
Hierdie voorval het Heuningvlei vir drie dae sonder elektrisiteit gelaat.
Die polisie doen weereens ‘n beroep op die publiek om die Suid-Afrikaanse ekonomie te help groei deur aktief deel te neem aan alle pogings om die stryd van koperkabeldiefstal uit te roei, sê Otola.
Die saak is tot 21 Junie uitgestel.




