Die veroordeelde John Block (55), eens die Noord-Kaapse ANC-leier en ’n voormalige LUR wat ’n vonnis van 15 jaar vir korrupsie uitdien, het Dinsdag in Upington in ’n lang, swart wintersjas op afsonderlike aanklagte van bedrog verskyn.
Die Valke het reeds Maandag uit Kimberley vertrek om hom Dinsdagoggend by die gevangenis in Upington in hegtenis te neem en hof toe te bring.
Dit volg op die verskyning verlede week van Patience Mokhali (65), voormalige provinsiale departementshoof van die departement van openbare werke en paaie, en Tshegolekae Motaung (59) en sy maatskappy, Babereki Consulting Engineers, in die landdroshof in Kimberley.
Block was voorheen die LUR vir paaie en openbare werke.
Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder, sê die bewering is dat Babereki Consulting Engineers CC in 2003 ’n bedrieglike kontrak van R51 miljoen toegeken is om die psigiatriese hospitaal buite Kimberley te bou.
Die maatskappy het nie aan die vereistes voldoen nie en was tegelykertyd die strukturele siviele ingenieur en die projekbestuurder op die bouterrein.
Die bewerings kom neer op wanadministrasie en wanbestuur.
Mokhali en Motaung word onder meer van bedrog, korrupsie en geldwassery aangekla oor die boukontrak van die omstrede psigiatriese hospitaal wat 14 jaar en meer as R2 miljard geneem het om te voltooi.
Die hospitaal, wat in 2003 deur die destydse premier Dipuo Peters bekend gestel is, sou R290 miljoen kos.
In 2011 het Dawid Rooi, toe LUR, gesê die bouwerk is in 2005 begin. Vista Park/JOH Arch Investment JV is as die kontrakteur aangestel om die gebou binne 24 maande te voltooi. Dit is selfs ná ’n uitstel van die sperdatum nie voltooi nie.
Teen Desember 2009 is die kontrak beëindig, wat tot hofsake gelei het.
Die departement het die bouterrein oorgeneem. Die sekuriteit was nie na wense nie, en vandalisme het plaasgevind.
Vele staandeportefeulje-komitees het ook die gebou besoek en kop geskud oor die probleme by die onvoltooide kompleks van meer as 336 000 vierkante meter. Etlike hofgedinge is ook tussen die departement en latere kontrakteurs gevoer oor wanbetaling en die beëindiging van kontrakte.
Drie premiers later is die gebou in 2019 geopen, maar steeds met beperkte dienste weens ’n tekort aan kliniese personeel.
Dr. Zamani Saul, huidige premier, het dit met die opening as ’n monument van korrupsie beskryf.
Vroeër het Andrew Louw, destydse DA-leier, dit as ’n gebou “vol leegheid” beskryf.
Hofsake waarin beskuldigdes vir waarneming gestuur moet word, is ook vertraag weens die onvoltooide hospitaal en gebrek aan dokters en geriewe by die Wes-einde-hospitaal wat intussen gebruik is.
Volgens opposisiepartye het psigiatriese pasiënte ook gely weens beperkte geriewe.
Dr. Isak Fritz, DA-LW, eis dat die wetgewer se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) alle staatskontrakte wat aan Babereki Consulting of aan Rockwood Trading toegeken is, ondersoek.
“Ons is verlig dat die wiel van geregtigheid uiteindelik gedraai het, sodat daar uiteindelik aanspreeklikheid kan wees. Babereki Consulting is ook deur die regering kontrakteer om die Kuruman-lykshuis te bou.
“Dit het tot ’n regsdispuut gelei wat die lykshuis onvoltooid gelaat het. In 2014 het bloed uit die lykshuis in die strate gestroom.
“Enige onreëlmatighede wat Skoor ontdek, moet aan die Valke bekend gemaak word. Ons eis gevolgbestuur en aanspreeklikheid vir alle regeringskorrupsie, ongeag hoe oud of nuut dit is.”




