Iemand vertel my onlangs hoe lekker dit was toe sy in ’n vreemde stuk wêreld tussen vreemde mense as deel van ’n nuwe begin moes aanpas, en iemand heel opreg en gemaklik aankondig: Welkom by ons!

Daar is sekerlik min dinge wat soveel vreugde in het as om welkom te voel.

’n Opregte welkom is soos ’n kombers wat jou toevou in winterkoue en knus laat voel.

Dit is inderdaad soos om tuis te kom in ma se kombuis.

Die teenoorgestelde is natuurlik veel erger, en dit is wanneer jy nie welkom en tuis voel nie.

Daarom is dit so belangrik dat ons mense welkom moet laat voel in ons lewe, in ons groepe, in ons werk en in ons kerk.

Ons speel so ’n groot rol in hoe tuis ander mense voel of nie voel nie.

Natuurlik kom welkom voel vir party mense makliker as vir ander, en natuurlik is daar mense wat van geaardheid net so moeilik is dat dit moeilik is om hulle te laat welkom voel.

Maar wat ons aanbetref, sover moontlik, moet ons mense laat welkom voel in ons leefwêreld, want mense wat welkom voel, is deel van: werk saam, lag saam en doen saam.

Mense wat welkom voel, dra mekaar en staan op vir mekaar.

Die belangrikste is natuurlik dat mense moet welkom voel in jou hart.

Anders gaan hulle nêrens anders welkom voel nie.

Is daar ruimte in jou hart en leefwêreld vir ander mense?

Beleef mense die warmte daarvan dat hulle welkom is by jou?

Kan jy opreg welkom sê?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article