Ed van Wyk in sy Troebadoer-kostuum.

Foto: BidorBuy Credit: SYSTEM

Die Troebadoer, oftewel Ed van Wyk, wat gehore veral in die 1980s met liedjies soos “Sommer so, sonder rede” en “Sê vir Madelein” vermaak het, is op Dinsdag 23 Mei in sy huis in Keimoes oorlede.

’n Kanker van die sagte weefsel is twee jaar gelede by hom ­diagnoseer, waarna hy bestraling en chemobehandeling ontvang het.

Sy vrou, Dalene, sê hy het die laaste tyd erge pyn gehad. Hy was 71 jaar oud.

Sy sê Ed se sangloopbaan het in ’n doodloopstraat beland toe hulle tien jaar gelede die bestuur van die drankwinkel in Keimoes by hul ouers oorgeneem het.

“Ed het aanvanklik so drie keer opgetree, maar daar was nie geleenthede op die platteland nie, wat vir hom ’n groot gemis was,” sê Dalene.

Volgens die musiekpromotor Lydia Winchester was Ed “die grootste gentleman en het geen mens ooit skade aangedoen nie”.

Sy sê ook Ed het altyd ’n op­gestopte slang in sy motor ge-had om moontlike diewe af te skrik. Sy Troebadoer-uitrusting met hoed en al is in ’n stadium nietemin gesteel, waarna hy onder sy eie naam opgetree het.

Edwin van Wyk is op 3 September 1951 in Johannesburg gebore en het in 1984 sy eerste langspeelplaat opgeneem. Boet Pretorius en André Viljoen­ van die destydse Decibel Musiek het die karakter Die Troebadoer vir sy sangloopbaan geskep.

Ed laat benewens sy vrou, hul dogter en enigste kind Machaela (22), en sy broers, André en Ivan, agter.

Elretha Britz

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article