Die hof het Vrydag 2 Junie in die landdroshof in Kimberley borgtog toegestaan aan die sakeman wat onder meer van die aanranding met die doel om ernstig te beseer, op sy lewensmaat aangekla is.
Die voorval het die gemeenskap genoop om hul misnoeë teen geslaggeweld by die hof te demonstreer.
Landdros Jomari du Toit het in haar uitspraak gesê die gemeenskap moet uitgesproke en betrokke raak om dié soort misdaad hok te slaan.
Die man (in sy dertigs) se identiteit mag nie bekend gemaak word nie. Die voorval het in die middel van Mei by hul huis gebeur toe hy sy lewensmaat na bewering aan die hare geruk, gewurg, teen ’n kas vasgedruk en met die dood gedreig het.
AO Attie Brouwers, ondersoekbeampte, het voorverlede week in die man se borgtogaansoek die verklaring van die slagoffer voorgelees.
Volgens die vrou is die beskuldigde “ ’n sadis wat haar en die kinders onderdruk”.
Op ’n tydstip het hy haar gedwing om in ’n ander dorp te gaan bly. Toe sy toegelaat is om terug te keer, mag sy nooit saam met die gesin aan tafel geëet het nie. Sy moes huis skoonmaak, tuisonderrig aan die kinders gee en ook sy maatskappy se boekhouding doen. Saterdae moes hulle Sabbat hou terwyl hy ook gepreek het.
Hy sou na bewering gereeld vir haar sê sy is ’n “k*k slegte vrou” en dat hy haar “gesig wou rearrange”. Hy het die een kind na bewering gedwing om gedurig ’n handwapen in sy broekrek te dra. Toe die kind dit een keer nie gedoen het nie, het hy na bewering die kind geslaan.
Op die dag van die voorval het hy glo in die kantoor gesê sy respekteer hom nie en het haar aangerand. Later het hy na bewering haar beveel om die huis te verlaat. Sy het haar handsak gegryp, maar hy het geweier om haar bakkiesleutels te oorhandig. Haar suster het haar kom haal.
Sy glo niks sal hom keer om hulle op te spoor en haar dood te maak nie.
Adv. Sakkie Nel, die man se regsverteenwoordiger, het namens hom aangevoer die vrou se bewerings is onwaar en oordrewe.
Dit is vir die man vreemd dat as die vrou so erg by hul huis aangerand is, sy eers drie dae later hospitaal toe is en toe die klagtes aanhangig gemaak het. Boonop het haar suster, wat ’n luitenant-kolonel in die gesinsgeweld-eenheid in Galeshewe is, en haar lewensmaat, wat onder haar in dieselfde eenheid werk, van die verklarings getik wat die ondersoekbeampte net onderteken het.
Die man is twee dae later by sy huis aangekeer. Nel het aangevoer kringtelevisiebeelde toon hoe 15 lede van die taktiese reaksie-eenheid die elektriese heining van die buitemuur afbreek en daaroor klim. Hulle het aanvalsgewere, harde hoede en ski-maskers op hul gesigte. Die lede het na bewering een van die werknemers voor die kinders op die vloer gegooi en geskop. Lede van die kriminele rekordsentrum en honde-eenheid was ook teenwoordig.
Kringtelevisiebeelde van die dag van die voorval toon hoe die vrou die man deur die gesig klap. Hy hou homself egter in. Wanneer sy die huis verlaat, is sy nie mank of met sigbare beserings op haar gesig nie. Nel het aangevoer ’n vrou wat ’n man slaan, ook op huishoudelike geweld neerkom. Die vrou het die klagtes eers aanhangig gemaak nadat die man die video waarin sy hom klap, aan haar gestuur het.
Brouwers het toegegee die kind het nie ’n vuurwapen op hom gehad nie. Die polisie het nie ’n versteekte wapen waarvan die reeksnommer afgeveil is, in die kas weggesteek gevind nie. Daar was nie ’n haelgeweer by die bed se koppenent nie. Die man het wettige vuurwapenlisensies, behalwe dié wat nog in die handelaar se naam is.
As die man die vrou dan so onderdruk, sou hy haar nie op oorsese vakansies geneem of vir haar ’n splinternuwe bakkie gekoop het nie.
Die man moet ingevolge die borgtogvoorwaardes R20 000 borgtog betaal en mag nie die dorp waar die vrou bly, betree nie. Sy paspoort word teruggetrek en die polisie bly in besit van sy vuurwapens en lisensies.
Die saak is tot volgende maand uitgestel.





