Die drie beskuldigdes vroeër in die hof.
Van links is Nicardo Mark Hutama (Meksiko) wat sy gesig wegsteek, Kerneels Persent en Lucky Bohelo wat van die moord op Attie Jooste in 2018 buite Jan Kempdorp aangekla word. Foto: Charné Kemp

Die verhoor van die drie mans wat van die moord op Attie Jooste op 7 Januarie 2018 op sy kleinhoewe buite Jan Kempdorp aangekla word, is tot 17 Julie uitgestel nadat twee verdagtes sekere bekentenisse gemaak het.

Verlede week het ’n eksmeisie van een van die aangeklaagdes in die hooggeregshof in Kimberley getuig dat die drie mans wat van die moord op Jooste (60) aangekla word, ’n dag ná sy dood van “die moord op die wit man” gepraat het.

Van hul klere was tydens die gesprek bloedbevlek.

Lucky Bohelo, Kerneels Persent en Nicardo Mark (Meksiko) Hutama word van roof met verswarende omstandighede en moord aangekla.

Hulle het na bewering op die dag Renier Adriaan (Attie) Jooste op sy kleinhoewe buite Hartswater met ’n mes of soortgelyke voorwerp in die bors gesteek en beroof.

Hy is in die aanval dood.

Sy Chevrolet-voertuig, geheuestokkies, drie selfone, klere, ’n beursie met bankkaarte, ’n wisselrigter, boor, televisie, videokamera, luidsprekers, ’n kis Harrier-whisky, naskeermiddel en ’n sak met eetgerei is geroof.

Die verhoor is voorheen van die rol geskrap weens die gebrek aan DNS-uitslae wat steeds by die polisie se forensiese laboratorium is.

Van die aangeklaagdes wat vroeër op waarskuwing vrygelaat is, het ook nie vir die verhoor opgedaag nie en is later in hegtenis geneem.

Hulle bly in aanhouding.

Die staat voer aan Jooste se verlate motor is op die betrokke dag sowat 300 m van sy huis gevind.

’n Buurman het ondersoek ingestel en na Jooste geroep.

Die polisie is ontbied, wat Jooste se lyk in die huis gevind het.

’n Polisieman op die toneel het inligting oor die vermoorde Jooste se besittings ontvang, waarna hy na Hutama se huis is. Daar het hy van Jooste se besittings in die besit van die drie aangeklaagdes gevind.

Annastacia Mokopudi, die eksmeisie, het in kruis­ondervraging getuig dat sy Hutama naby ’n hoenderplaas in die omgewing raakgeloop het. Hy het haar gevra om saam met hom te loop.

Hulle is toe na die plaas, waar daar ook ’n snoepwinkel is. Hutama het vir haar koeldrank gekoop om te drink.

Hy het twee bottels Harrier-whisky uit ’n rooi sak gehaal waar hulle onder ’n afdak gesit het.

Een bottel was halfvol en die ander vol.

Die ander twee vermeende moordenaars het ook opgedaag. Die mans het almal whisky gedrink en sigarette gerook en was effens aangeklam.

Persent en Hutama het Bohelo beveel om die sak weg te vat.

Sy het gehoor hulle praat “diep Tswana”, maar sy kon verstaan dat hulle oor die “moord van ’n wit man praat”.

Bohelo het ’n bloedkol op die bopunt van sy hoed gehad en daar was ’n bloedkol op Persent se regtervoet, bo-op sy tekkie.

Sy het “geskrik” en opgestaan om te loop.

Dit is toe dat die polisie daar opdaag en die drie mans op die grond vaspen en in hegtenis neem.

Hutama het vir haar gesê sy moet sekere goed in sy huis aan die polisie wys.

Sy het een van die polisiemanne na Hutama se huis vergesel en die geheuestokkies en selfone uitgewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article