As Hanru Sirgel, flank en kaptein van Griekwas, Vrydag (10/06) teen die Pumas sy huidige goeie spelpeil kan voortsit, kan die Noord-Kapenaars hul plek in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks bespreek.
Die twee spanne pak mekaar om 15:00 in Kimberley in ’n herhaling van verlede jaar se eindstryd. Tóé het die Pumas gewen om die eerste keer nog die Curriebeker omhoog te hou.
Dié keer is ’n plek in die halfeind op die spel. Die twee boonste spanne op die puntelys, die Haaie (48 punte) en die Cheetahs (46), is reeds verseker van tuishalfeindstryde. Hulle word gevolg deur die Pumas (36), Bulle (36) en Griekwas (35). Die Westelike Provinsie (WP) en die Leeus het onderskeidelik 32 en 31 punte.
Wen die Laevelders Vrydag met ’n bonuspunt en die Bulle reken Saterdag met die Cheetahs met ’n bonuspunt in Pretoria af, sal die Pumas en die Ligbloues albei op 41 punte en in die halfeind wees. Slaag Griekwas egter daarin om met ’n bonuspunt te wen, sal hulle op 40 wees en verseker wees van ’n plek in die halfeind. In so ’n geval sal die Pumas moet hoop die uitslae van ander wedstryde verloop in hul guns.
Pieter Bergh, afrigter van Griekwas, is vol lof vir Sirgel. Die Poubloues het Vrydag ’n sterk WP-span met 38 – 29 in Kimberley geklop. Sirgel (25), sy span se steelkantflank, het teen die Streeptruie die oog getref as baldraer, op die verdediging en ook as besluitnemer.
“Hy speel al hoe beter. Hanru is baie kalm en rustig. Die spelers hou almal baie van hom. Hy het ’n goeie sin vir humor. Hy is die perfekte leier vir hierdie span en hy het die potensiaal om rugby op ’n hoër vlak te speel. Hy was vandag uitstekend.”
Bergh sê die oorwinning oor die Streeptruie is ’n inspuiting vir sy spelers se selfvertroue. Heelwat van die WP-spelers wat Vrydag in Kimberley in aksie was, het vanjaar vir die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) diens gedoen.
“Ons het die WP nou ses keer in ’n ry gewen. Met die laaste paar seges is gesê dat dit nie teen goeie WP-spanne was nie. Hierdie keer het ons teen ’n baie sterk span gespeel.”


