“Vriendin, daar is iets wat ek vir jou moet sê.”

Dit klink baie ernstig.

My brein neem die loop. Dalk gaan hulle verhuis. Dalk het ek iets verkeerd gedoen. Dalk het sy ’n reuse persoonlike krisis.

“Jy het per ongeluk geld in my rekening inbetaal, en nou soek jy dit terug,” sê ek laggend.

Sy skud haar kop.

“Nee, luister nou. Dit is vir my baie moeilik om dit vir jou te sê.”

My hart krimp ineen.

Hul dogter trou later in die jaar. ’n Paar weke gelede het sy vir my ’n kaartjie wat die datum aankondig per WhatsApp gestuur.

Ek het vir ’n paar oomblikke na die pragtige kaartjie gekyk en daaroor gewonder.

Ons is baie goeie vriendinne en heg albei waarde aan die vriendskap, maar ek twyfel of hierdie uitnodiging ’n ware weergawe is van waar ons in hul lewe inpas.

My antwoord was dat die kaartjie pragtig is.

Sy laat sak haar kop en prewel sag: “Ek het daardie WhatsApp vir die verkeerde Karin gestuur,” bieg sy.

Ek lag.

“So ek word glad nie uitgenooi nie?” torring ek haar marteling verder uit.

Sy skud haar kop. “Ek is so jammer.”

“Ons Karins is gesaai, ons is nie geplant nie. Weet jy hoeveel verkeerde boodskappe by my uitkom?”

Die meeste mense is haastig. Besig. Ingedagte. Oorwerk.

Maar as jy iemand goed genoeg ken en weet waar jy inpas, raak só ’n voorval iets waaroor die kleinkinders nog gaan giggel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article