Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley sê hy is gereed om met die R2,5 miljard grootmaat-infrastruktuur-projek te begin waarin hy beoog om waterverliese van 63% na 20% oor die volgende jare te verminder en uiteindelik tot 0% bring.
Kagisho Sonyoni, uitvoerende burgemeester, en Thapelo Matlala, munisipale bestuurder, het met die bekendmaking van die projek op Dinsdag (13/06) gesê die geld sal deur ’n spesiaal aangestelde projekspan bestuur word. Tenders sal wyd adverteer en die suksesvolle bieërs se name publiseer word.
’n Projekbestuurder en ingenieur sal ook deel van die span uitmaak. Intussen hoop hulle om teen Augustus ’n geregistreerde, professionele ingenieur by die munisipaliteit aan te stel.
Sonyoni meen die munisipaliteit se drinkwater is veilig en vandeesweek se watertoetse het bewys cholera is nie teenwoordig nie. Dit kom ná die uitbreking van cholera in ander dele van die land weens swak watergehalte waarin 32 mense tot dusver dood is.
Die munisipaliteit, wat in 2021 by Infrastruktuur Suid-Afrika aansoek vir die geld gedoen het, sal ook geld aan die projek skenk, maar die grootste deel daarvan kom van die nasionale tesourie.
Die geld sal in ’n fonds gestort word wat onafhanklik deur ’n taakspan beheer en net vir die projek aangewend word.
Die verkrygingsproses behels dat betrokke kontrakteurs wat aan sekere funksionaliteite en kwalifikasies voldoen op ’n kortlys geplaas word. Hulle sal van tyd tot tyd versoek word om kwotasies te gee wat op spesifikasies en tekeninge gegrond is.
Die munisipaliteit wil die wateronttrekking-en suiweringsaanleg in Riverton opknap, nuwe grootmaattoevoerpype aanlê, nuwe opgaardamme in Roodepan en Galeshewe bou, en die bestaandes en die interne retikulasienetwerk opknap. Die ou infrastruktuur skep probleme soos watertoevoeronderbrekings en kapasiteitsprobleme, verouderde wateronttrekkings en suiweringstelsels, lae watergehalte, lekplekke en gevolglike geldelike verlies.
Omdat die werk meesal opknapping en vervanging behels, benodig die munisipaliteit nie ’n waterlisensie nie, maar sal dit op die lang duur vir sekere projekte bekom.
Op ’n ander noot het Matlala bygevoeg dat slaggatherstelwerk en verstopte vloedwaterslote binnekort meer aandag sal kry, en dat hulle ook hard werk om rioolprobleme in Greenpoint, White City en Roodepan te verlig.
Die watervlak van Kamfersdam by die N12-roete en die Platfontein-riooldam is besig om te daal omdat lekplekke algaande reggemaak word.





