Netbalspelers van die Rietfontein-Mier-gebied in die Kalahari op hul grondbaan.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Netbalontwikkeling in die Rietfontein-Mier-gebied in die Kalahari word reikhalsend deur die jeug van dié verafgeleë omgewing begeer.

Lede van spanne soos die Warriors Ladies NC, Kgalagadi Eagles, Desert Eagles, Role Models, Donna 7s, Black Aces Ladies en Cosmos Ladies sal graag die sportsoort wat hulle so geniet, op behoorlike netbalbane wil beoefen en ook deel van die ZFM-liga wil wees om aan georganiseerde byeenkomste deel te neem.

Gert Eiman, gemeenskapsleier, sê netbalontwikkeling is nou ’n voorkeursaak.

“Hier is talentvolle netbalspelers, maar hulle word nie raakgesien nie,” sê hy.

Hoewel netbal in Mier by skole beoefen word, is die blootstelling steeds uiters beperk.

“Sokker word meestal beoefen, en kry die aandag. Netbalontwikkeling is belangrik sodat die meisies ook sport behoorlik kan beoefen.”

In die omgewing bestaan geen behoorlike netbalbaan waar wedstryde kan plaasvind nie; nog minder masligte en kleedkamers.

Eiman sê die kinders speel op grondbane, met selfgemaakte doelpale. Die lyne word met as gegooi. Spandrag en balle vir elke span is die ideaal, asook liga-registrasie.

“Ons het sport vir die meisies nodig om van die werklikheid van tienerswangerskappe, en dwelm- en drankmisbruik, weg te kom.

“Die kinders moet kan uitsien na ’n sportnaweek waar hulle op ’n ander plek kan gaan deelneem. Hulle moet kan uitsien na ’n moontlike loopbaan as beroepspeler, om eendag dalk ’n sportster te kan wees, en selfs om in die nasionale span te kan speel.”
Gert Eiman, gemeenskapsleier

En natuurlik, sê Eiman, word dit gedoen om Rietfontein-Mier in die Kalahari se naam hoog te hou.

“My leuse vir sportbeoefening is: ‘A child in sport is a child out of court’, ” sê hy.

Departemente, organisasies, ondernemings of individue wat tot die vervulling van die droom kan bydra, kan Eiman by 078-164-2364 of by eimangert106@gmail.com kontak.

Kinders in die Mier-Rietfontein-omgewing van die Kalahari droom van netbalontwikkeling, en om ook deel van ‘n liga te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article