“Plan your schedule accordingly,” kom die opdrag van Eskom.
En die meeste mense gee gehoor daaraan. Totdat jy, die tweede keer in ’n baie kort tyd, jouself sonder elektrisiteit betrap terwyl jy beskuit bak.
Jy beloer die koopkragmeter. Stilte. Dit wys nie 0.00 nie, so daar is genoeg koopkrag. Dit is net dood.
Jy beloer die kragboksie. Dalk het ’n skakelaar sy eie vorm van intelligensie gebruik om homself af te sit. Nee, ook nie. Alles is aan.
Terselfdertyd is alles af.
Jy stap terug kombuis toe en neem jou selfoon in jou hand. Jy wag vir enige boodskap van enige aard wat gaan aandui wat fout is. Jy het ’n idee wat fout is. Wat jy wel wil weet, is hoe lank dit gaan neem om dit reg te stel.
Die geluid van kragopwekkers wat aangeskakel word, bevestig jou ergste vermoede.
Jy beloer die Eskom-skedule. Geen beurtkrag nie. Immers nie nou nie.
Dit is waarom jy karringmelk en botter gaan koop het. Dit is waarom die oond sopas sy temperatuur bereik het. Omdat iemand laat weet het dat daar vandag, op hierdie datum en op hierdie tyd in hierdie buurt, elektrisiteit sal wees.
En nou is daar nie.
Die boodskappe kom deur. Verskeie omgewings sit sonder elektrisiteit. Onverwags. Heeltemal onverwags.
Geen mens sou dit kon voorsien nie.
Ons pas ons beplanning aan soos wat daar gevra word.
Maar Eskom, wat van jul beplanning?


