Met Wêreldbewustheidsdag oor Bejaardemishandeling wat Donderdag (15/06) plaasvind, kan die deel van kennis dalk net help om ’n bejaarde uit ’n verknorsing te red.
Alle bejaardes moet kennis daarvan dra dat dit onwettig is, en ’n kriminele oortreding, wanneer enigeen of ’n onderneming jou aansê om jou identiteitskaart of -boekie, of bank- of Sassa-kaart, met geheime kode, by hulle as “waarborg” te los.
Sulke gedrag en versoeke, sê die Nasionale Kredietreguleerder, moet by die polisie aangemeld word omdat dit ’n oortreding van die nasionale kredietwet is.
Dit kom nadat talle winkeliers verlede week deur die polisie in klein dorpies oor die Noord-Kaap heen in hegtenis geneem is.
Hul oortreding is om identiteitskaarte of -boekies, of bank- of Sassa-kaarte, van die regmatige houer weg te neem om as “waarborg” te hou – vir onder meer geld wat geleen is, of aankope wat gedoen is of gedoen moet word.
Dié winkeliers is na alle waarskynlikheid slegs enkeles van vele wat hulself op dié manier aan die oortreding van die nasionale kredietwet skuldig maak – en hulself verryk en hulpbehoewendes nog armer maak.
Met die bank- en Sassa-kaart in hul besit hou hulle die hef in die hand, en omdat die regmatige houer daarvan gewoonlik geen ander bankkaart het nie, word hulle gedwing om broodnodige kruideniersware by dié winkeliers teen waarskynlik buitensporige pryse te koop; of om kontant te verkry.
Volgens die polisie word buitensporige heffings glo by transaksies gevoeg.
In gevalle word geld boonop by die winkeliers geleen, wat die lener in ’n nog groter verknorsing plaas.
’n Groot deel van die lydende party is waarskynlik plattelandse bejaardes wat weens moontlike onkunde in die strik trap.
Deel die kennis, want kennis bly mag. Al is jy bejaard.


