“Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende…” sê Jesus vir sy dissipels (Joh. 15:13-14).
Die Griekse filosoof Aristoteles was oortuig dat vriendskap net tussen gelykes kan bestaan. Daarom was “vriendskap met die gode” vir hom nie moontlik nie.
In Jesus se tyd was die opvatting radikaal anders, maar dit is ook vir ons ’n vreemde gedagte. Ons sing: “Wat ’n Vriend het ons in Jesus,” en tog is ons versigtig om nie te familiêr met God te raak nie.
Daar is verskeie titels waarmee Jesus in die Nuwe Testament beskryf word: Leermeester, Here, Messias, Christus. Titels skep op ’n manier afstand. Tog, hoor wat sê Jesus: “Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie. Nee, Ek noem julle vriende (Joh. 15:15).
Hy behandel ons as gelykes. Hoewel ’n mens groot respek vir ’n vriend het, kyk jy nie op na ’n vriend nie, jy kyk hom in die oë.
Ons plaas almal ’n hoë premie op vriendskap, en tog verwaarloos ons soms vriendskappe. Wat binne ons vriendekringe gebeur, gebeur ook in ons persoonlike verhouding met Jesus Christus.
Dit gebeur nie altyd doelbewus nie. Ons hou op om oor Hom te dink; neem Hom nie op ons lewenspad mee nie; bly nie met hom in gesprek nie; soek nie meer sy Woord op nie. Ons is nog lid van die kerk, leef min of meer respektabel, maar die noue verbondenheid, die persoonlike omgang van ’n vriendskapsverhouding, is nie daar nie.
Daarom die dringende oproep van Joh. 15: “Bly in my”.
Ons sing: “Wat ’n vriend het ons in Jesus,” maar is Hy nog ons vriend?

