‘n Gebrek aan tegniese kundigheid en bekwaamheid, asook ‘n gebrek aan koördinasie tussen departemente en belanghebbendes, is van die hooffaktore wat die herstel van watertoevoer na Warrenton in die Noord-Kaap belemmer.
Dié gevolgtrekking, ná talle besoeke aan Warrenton en gesprekke met gemeenskapslede, het daartoe gelei dat die ACDP ’n dringende ingryping van die nasionale regering versoek het om die waterkrisis in Warrenton aan te spreek.
Dinsdagmiddag 20 Junie het die party aangekondig dat die nasionale regering R5,1 miljoen vir ramphulptoelae aan dié dorp goedgekeur het.
Die projek waaraan die Magareng-munisipaliteit hiermee voorkeur aan moet gee, is die herstel van die hooftoevoerpypleiding wat die watersuiweringsaanleg aan die westekant van die Vaalrivier en die watervoorsieningsgebiede in die dorp verbind.
Inwoners van dié dorp teen die Vaalrivier is reeds sedert Februarie sonder water nadat die vloed die hooftoevoerpypleiding wat deur die rivier strek, gebreek het.
Sedertdien is miljoene glo reeds aangewend vir ’n tydelike plan, asook vir ’n permanente plan, om die watertoevoer te herstel. Maar ná maande se magspel sit inwoners steeds sonder water in hul krane, en word die aanry van water met vragmotors of watertenkwaens deur bevoordeling gekenmerk.
In reaksie hierop het die ACDP verskeie belanghebbendes, insluitend die departement van water en sanitasie, Cogsta, asook die Magareng-munisipaliteit, genader en ontmoet met die versoek vir ramphulp en die dringende herstel van watertoevoer na Warrenton-dorp, Warrenvale en Ikhutseng.
“Ons het verlede week ons versoek vir die nasionale regering se ingryping na die adjunkminister van water en sanitasie uitgebrei. Die ACDP het ook ‘n petisie namens inwoners van Warrenton by die Parlement ingedien waarin ingryping en gunstige verligting gevra is,” sê Sukers.
In die petisie vra die gemeenskap van Warrenton vir ‘n nasionale ingryping, vir waterherstelwerk, en ook om die watersuiweringsaanleg van ongeveer R90 miljoen te ondersoek.
“Die adjunkminister van water en sanitasie, Judith Tshabalala, het vandag (Dinsdag) positief op ons versoek reageer en die versekering gegee dat sy ‘n ministeriële besoek aan Warrenton sal bring. Ons wag op die formele korrespondensie van die adjunkminister se kantoor in hierdie verband.”
Tydelike plan knak
Intussen, vertel inwoners, het die tydelike plan van die Magareng-munisipaliteit om Warrenton se voortslepende waterkrisis op te los, glo nie langer as ’n halfdag gehou nie voordat die nuwe waterpyp by ’n las geknak het, en die watertoevoer weer gestaak is.
Verlede week tydens ’n nuuskonferensie het Bentley Vass, die Noord-Kaapse LUR van die departement van samewerkende regering, menslike nedersetting en tradisionale sake (Coghsta), gesê die watertoevoer sal eers in Julie herstel wees. Die aankondiging is met verontwaardiging begroet. ’n Datum vir wanneer die toevoer herstel sal wees, is al telkens uitgestel.
Op 6 Junie tydens ’n vergadering is gesê die toevoer sal “binne ’n paar dae” herstel wees. Die leier van die ACDP, eerw. Kenneth Meshoe, Sukers, en verteenwoordigers van die Magareng-munisipaliteit was onder andere hier teenwoordig.
In ’n verklaring verlede week het Willem Potgieter, DA-raadslid, ook sy party se twyfel oor die maatskappy se vaardighede uitgespreek, en sê alle nodige metings is geneem, toestande bereken, en verslae saamgestel.
Intussen bly dit vir talle inwoners bykans onbekostigbaar om steeds drinkwater met van hul laaste geld aan te koop, terwyl die vrees bestaan van moontlike besmetting van onder meer cholera in die ongesuiwerde rivierwater.
Sukers het hoop uitgespreek dat die uitdagings wat haar party onder alle rolspelers se aandag gebring het, aangepak en deurgevoer sal word, en dat die hulpverligting op ‘n manier bestuur sal word wat verseker dat die mees kwesbares verligting ontvang.





