Hy is ses jaar oud.

Parmantig. Astrant. Oulik.

Sy ma oortuig hom hy kan nie.

Hy antwoord sterk hy kan.

Wel, eintlik kan hy nie.

Maar belangriker as dat hy nie kan nie, is sy vermoë om te glo hy kan.

Lank terug op die plaas het Ouma ons al geleer: Kannie is dood van kruiwa stoot.

As ’n mens wil, kan jy.

Jy kan ten minste probeer of ’n baie sterk poging aanwend.

Hierdie klein astrante sesjarige japsnoet raak my.

Gewoon omdat hy so vas glo hy kan.

Ons sê so maklik: Ons kan nie.

Dalk te maklik.

Ons stuit voor die onmoontlike eerder as om die onmoontlike moontlik te maak.

Daarom moet ’n mens nie moed opgee nie.

Ook nie te gou gaan lê nie.

Iewers sedert ons naïewe dae van jonkwees en glo dat ons alles kan, word ons twyfelaars en kleingelowig langs die grootwordpad.

Miskien is daar waarde daarin om deur die oë van ’n jongeling na die wêreld te kyk.

Dalk is daar waarde in om so bietjie meer van hul moed te hê.

En wanneer iets dan regtig nie kan nie, dit regtig bo ons vermoë is, is daar waarde daarin om tevrede te wees dat ons ’n goeie poging aangewend het.

Een van ons uitdagings in ons samelewing is dat ons sommer vooraf besluit ons gaan dit nie maak nie, ons kan nie hierdie omdraai nie en ons kan nie verandering bring nie.

Dalk moet ons weer onthou van Kannie is dood van kruiwa stoot.

Dalk moet ons weer begin glo: Ek kan!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article