’n Mens kan nooit klaar gedink kry oor die opregtheid waarmee kinders die lewe leef nie.

Ek het dit pas weer beleef tydens ’n werksgeleentheid.

Ons besoek een van ons sentrums waar ons kinders van ’n ete voorsien en die middag help met huiswerk en voorbereiding vir die volgende dag.

Tydens middagete trek die juffrou ’n jong seun vorentoe en vra of hy sal voorgaan in die dankie sê vir die kos.

Ons is gewoond dit is tog te mooi as kinders geloofstaal begin praat en met vrymoedigheid kan begin voorgaan.

So doen hierdie seun vandag.

Hy begin deur te dank dat ons almal saam kan wees.

Hy dra ook in dankbaarheid die personeel op wat tydens die skoolvakansie inkom sodat hulle wel nog ’n goeie bord kos kan eet.

Hy bedank die skenkers van hierdie kos en ook die hande wat dit voorberei het.

Alles so mooi. Alles so opreg.

Maar dan, net voordat hy klaarmaak met hierdie dankgebed, haal hy so ’n oomblik asem, sug diep, kinderlik, maar opreg en bid so ’n laaste sinnetjie: “En dankie dat my ma veilig is.”

Sy ma is veilig.

Opsigself klink dit goed en is ’n mens dankbaar.

Maar ’n mens moet ook sy kinderhart verstaan en sy leefwêreld ken om te verstaan.

Hy is opreg dankbaar dat sy ma veilig is.

Daarom bid hy dit.

Sy ma is dood. Kort gelede.

Longkanker het haar asem weggedruk.

Sy ma is veilig. Hy het seer, maar sê dankie dat sy veilig is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article