Tienjariges wat nog pop moet speel, in ’n klaskamer saam met ander gr. 5-leerlinge sit, en pouses kaalvoet of met skoolskoene met nerf-af punte op die skoolterrein speel of broodjies uit ’n kosblik eet, moet nou van swangerskap, babadoeke ruil, borsvoeding en babaversorging leer.

Of hulle word reeds aan die uitvoering van begrippe soos aanneming en selfs aborsie blootgestel. Dié makabere prentjie is nie deel van ’n nuwe grilreeks met diaboliese ondertone nie. Dit is die werklikheid in die Noord-Kaap.

Die nuutste statistieke uit die Noord-Kaap dui aan dat gemiddeld 20 swangerskappe per kwartaal in die ouderdomsgroep tien tot 14 jaar aangeteken word. Dit is ongeveer 80 per jaar.

In die ouderdomsgroep 15 tot 19 jaar word gemiddeld 900 tienerswangerskappe per kwartaal in die provinsie aangemeld – dit is ongeveer 3 600 per jaar.

Die Noord-Kaapse LUR vir onderwys, Zolile Monakali, het verlede week tydens sy begrotingsdebat hierna verwys.

Hy het gesê lewensvaardighede rondom dié kwessie gaan in die leerplan ingebring word, en dat ’n strategie in samewerking met die departement van onderwys, gesondheid en sosiale ontwikkeling gefinaliseer word.

Dié strategie sal onder meer gewaagde gedrag en skadelike sosiale kwessies aanspreek.

Op ’n sosialemediaplatform, in reaksie hierop, het lede van die publiek die departement van onderwys oor die swangerskappe verkwalik en gewonder wat die instelling doen om dit te verhoed. ’n Ander lid se reaksie was dat die departement nie kinders grootmaak nie, maar ouers. Nog ’n mening is dat geen mens ’n kind alleen kan grootmaak nie.

Die ou Afrika-gesegde: “It takes a village to raise a child”, is hier ter sprake. In Swahili is ook ’n gesegde: “Whomsoever is not taught by the mother will be taught with the world”.

Kinders grootmaak is ’n lewenslange taak; en is beslis geen kinderspeletjie nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article