Daar is min dinge so opwindend soos ’n blaaskans weg van die werk en huis.

Of hierdie blaaskans ’n paar dae se wegbreek behels of ’n paar weke iewers ver, dit is iets wat wondere vir liggaam en gees verrig.

Die lekker rondom dit behels dalk ’n bespreking wat gedoen word of ’n roete wat beplan word.

Daar kan dalk iewers saam met goeie vriende gekuier word.

Voor ’n mens jou oë uitvee, is dit tyd om huiswaarts te keer.

En hierin lê ook ’n lekkerte.

Om die deur oop te sluit en die bekendheid te ervaar.

Reuke en geluide wat jy ken. Troeteldiere wat jou opgewonde groet en aanhou groet.

Jou onmiddellike omgewing is dalk nie die mooiste of beste of weelderigste op aarde nie, maar dit is joune.

Dinge waarvan jy hou. Artikels wat vir jou waarde inhou. Dinge wat jy dalk nie noodwendig gedink het jy gaan mis nie.

Die snoesigheid van jou beddegoed. Die gemaklikheid van jou stoel. Die varsheid van die bondel wasgoed wanneer jy dit uit die wasmasjien haal.

Perspektief is nou duideliker.

Nuwe planne of uitdagings neem dalk nou vorm aan. Dalk het oplossings vorendag gekom wat in die daaglikse harwar feitlik onmoontlik voel.

Die daaglikse roetine gaan binnekort weer teen ’n geweldige spoed begin.

Iewers gaan julle nog gesels oor die wegbreek en deur foto’s blaai.

Maar uiteindelik is jy terug waar jy voel jy tuishoort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article