Skaars 60 dae nadat twee broers van Kathu ’n duo gevorm het, was hulle twee aande agtereenvolgend op die verhoog vir die voorvertoning van ’n bekende sanger-liedjieskrywer-en-kitaarspeler.
Vir Schüblie (25) en Daniël Fourie (22) was dié besondere geleentheid op 23 en 24 Junie tydens Francois van Coke se vertoning by Burgersbos buite Kathu.
Die duo, genaamd Soms ’n Fantasie, het geensins verwag om ná die vertoning deur gehoorlede gevra te word om vir foto’s te poseer of handtekeninge uit te deel nie.
Dit was hul tweede keer voor ’n gehoor, en hulle beskryf dit as ’n behoorlike leerskool. Hul eerste openbare vertoning was tydens ’n onlangse kerkbasaar in die dorp.
“Ons het nie eens verhoogvrees gekry nie – ons optrede het natuurlik gekom,” vertel Daniël. “Dit help dat die verhoogligte in ’n mens se oë skyn, dan sien jy nie juis die gehoor nie,” spot hy. Schüblie – ’n Duitse familienaam – het wel ondervinding van musiekkompetisies.
Hulle kon dit boonop skaars glo toe Van Coke hulle die tweede aand vra om saam met hom op die verhoog op te tree.
“Dít het ons glad nie verwag nie,” sê Daniël. Hulle het ook ’n Nederlandse lied gesing wat Daniël in sy tydperk as au pair in Nederland geleer het, en wat Van Coke ken.
Die uitstekende klankstelsel wat vir die vertonings gebruik is, het volgens hulle ook ’n “massiewe verskil” gemaak.
Dié twee broers, wie net meer as ’n jaar gelede saam met hul gesin vanaf Witbank na Kathu verhuis het, is nog nie in die Noord-Kaapse omgewing bekend nie. Gehoorlede was verras om uit te vind dat hulle wel in Kathu woon, en nog meer verras om te hoor dat hulle ’n week voor die vertoning hul debuut-enkelsnit, “Bossie blomme”, op 16 Junie uitgereik het.
Idanté du Toit, wie die duo met bestuursake help, kon uitvind hoe om te werk te gaan om ’n voorvertoning aan te bied.
Die Fourie-broers moes ’n paar liedjies vir die organiseerders sing, met positiewe gevolge. Die eerste aand het hulle ses liedjies gedoen, en die tweede aand sewe. Drie daarvan was eie lirieke, met die ander wat deur die organiseerders aanbeveel is.
Die naam Soms ’n Fantasie is gegrond op ’n gedig wat Daniël geskryf het.
Die droom om saam musiek te maak en te sing kom van lank terug, vertel hulle en merk op dat hulle vroeër dalk nie volwasse genoeg was om dit aan te pak nie.
Met Schüblie wat onder meer die kitaar bespeel, en Daniël wat lirieke skryf, is die droom in die Noord-Kaap bewaarheid.
Hulle is huiwerig om hul styl aan ’n spesifieke musiekgenre te koppel, en beskryf dit as moderne Afrikaanse pop, met ’n verrassing van rap tussen-in.
Al hul liedjies is in Afrikaans, en die Engelse lirieke wat hulle getoets het, het onnatuurlik gevoel.
Hul debuut-enkelsnit is opgedra aan die vrou wat sterk is, en wat voluit leef. Van die lirieke wat Daniël skryf het ’n Christelike inslag, hoewel hy nie doelbewus probeer om ’n geestelike inslag in te bring nie. Die broers is wel albei Christene, en by gemeente-aktiwiteite betrokke.
Schüblie is ’n sangonderwyser en het sy musieklisensiaat in vokale opleiding aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) behaal. As iemand wat baie goed kitaar kan speel, en ook klavier, was sy idee om sang- en musieklesse in Kathu aan te bied. Dit het nog nie ’n werklikheid geword nie.
“Intussen is ek nie te trots om ’n kelner by Mugg and Bean te wees nie,” vertel hy. Schüblie het in 2015 aan die Hoërskool Generaal Hertzog in Witbank matrikuleer.
Daniël het in 2018 aan Curro Bankenveld, ook in Witbank, matrikuleer. Hy is tans ’n eerstejaarstudent in sielkunde by Unisa. Die vorige twee jare was hy ’n au pair in onderskeidelik Nederland en België. Sy plan was om deur Europa te toer, maar die Covid-19-pandemie het hom redelik “gehok”.
Die duo se opname vir ’n tweede enkelsnit vind op 17 Julie in Potchefstroom plaas. Die liedjie handel oor waarom hulle Afrikaans sing, en hulle beskryf dit as “baie positief en lekker om op te dans”.
- Soms ’n Fantasie se volgende optrede is op 7 en 8 Julie by die Sivos-rugbyterrein in Kathu, waar Dodo Nyoka, Loufi en Jan Rhaap ook onder andere optree. Die optrede is deel van ‘n musiekfees en RPU-gholfdag waartydens geld vir die bevegting van veldbrande in die Gamagara-gebied ingesamel word. Vir meer inligting oor die geleentheid, bel vir André Schoeman by 082-319-5906 of Monique van der Merwe by 060-508-8838.
- Volg Soms ’n Fantasie op Facebook, Instagram en TikTok, en luister na die debuut-enkelsnit op musiekplatforms soos YouTube en Spotify.





