Ons leef nie vir altyd nie. Uiteindelik is die wêreld soos ons dit ken net tydelik.
Alles soos wat ons dit nou beleef, gaan ten einde loop.
Die huise waarin ons woon, gaan later deur iemand anders bewoon word. Die kantoor wat jy nou beman, gaan uiteindelik aan iemand anders oorgegee word. Jou stoel in die klaskamer gaan deur ander leerlinge of studente ingeneem word.
Onderwysers, werknemers, werkgewers en kollegas gaan aftree of wegtrek. So ook vriende, familie en bure.
Mense wat jy nou ken, gaan later nie meer deel van jou lewe wees nie. Sommiges omdat hulle nie meer leef nie. Ander omdat jul paaie geskei het.
Dinge wat nou aan ons bekend is, gaan deur ander, nuwer dinge vervang word.
Nuwe tegnologie. Nuwe soort aspekte van die lewe. ’n Nuwe maniere van doen.
Ons doen dinge vandag anders as ’n aantal dekades gelede. Oor ’n aantal dekades van nou af gaan dinge anders as vandag gedoen word. Dalk sonder ons.
Vir sommige mense is dit miskien ’n ontstellende gedagte, maar hierdie bewuswording verleen ’n unieke soort perspektief.
Uiteindelik gaan kosbare herinneringe al wees wat voortbestaan. Herinneringe aan wie jy was en wat jy gedoen het. Herinneringe aan hoe jy in mense se lewe ingepas het en of jy ’n positiewe verskil gemaak het.
Gebruik hierdie lewe en doen die beste wat jy kan, terwyl jy kan.
Want uiteindelik is die wêreld soos ons dit ken, vlietend.


