Die nagevolg van ’n trek is die belofte om nie (weer) op te gaar nie.
Rooymamma maak dit haar missie om skoon oppervlakke in die nuwe pastorie te handhaaf.
Ontrommel en bêre is nou deel van die spanplan. Maar die Rooyspan versamel steeds – konkreet en in geheuekamers.
Rooymamma probeer rekord hou van Ouboet se kwinkslae, maar tussen onthou en tik verdwyn dit in die boks van vergeet. So sou hy eendag na aanleiding van ’n boemelaar wat in ’n kokonkombers straataf loop en waarskynlik sonder heenkome is, vra of adult orphans bestaan.
Rooypappa versamel deesdae roosbome in alle geure en kleure, waarskynlik na aanleiding van sy vrou se drome en verlange na haar grootwordplek, Bloemfontein. Hy troetel en versorg die boompies getrou en doen navorsing. “Icebergs” word bespreek en Sussie gemotiveer om te wag totdat die rose blom.
Buiten blomme versamel sy nou plakkers en pleisters wat sy op haar vensterbank “wegsteek”. Prentjies van hartjies, blomme en diere – en twee pleisters – baai daagliks in die son.
Ondanks Rooymamma se minimalistiese neiging was die vreugde groot toe Rooypappa met ’n ekstra stel foto’s by die huis kom nadat Ouma Bos vir foto’s van haar hartsmense as verjaardaggeskenk gevra het.
Fotorame is uit bokse gehaal en gehang. Marie Kondo het immers gesê dit is toelaatbaar om goed te hou wat vreugde bring. Dankie tog vir foto’s – al neem dit ruimte op en tel dit tegnies as opgaar.

