“Traveling – it leaves you speechless, then turns you into a storyteller.” – Ibn Battuta

Die jong mens is soos ’n leë skilderdoek. Die doek het nie veel diepte, nuanse, lyne, vorm, tekstuur, kleure, perspektief of mymeringe wat met kwaste in skakerings van allerlei kleure aangebring is nie.

Uitdrukkings van beleë emosie of gedagtes wat deurdink is, skort.

Reiservarings is ’n skilder wat tydsaam betekenis aan sy seildoek gee. Wat volume, ruimte, beweging en lig op ’n plat oppervlak laat leef. Jou eerste ervaring buite jou gemaksone is die dag wanneer die skilderdoek kleur en vorm begin kry.

Onthou jy toe ons die snerpende woestynwind in ’n tent in die Namib moes oorleef?

Die haas waarmee ons in die middel van die nag in ’n tent gespring het toe die leeu brul?

Die vlug oor die Drakensberg tydens ’n donderstorm, die witwatervaart op die Olifantsrivier. Die dag toe jy vrou-alleen die Ooste sonder ’n reisplan aangedurf het? Saam met ander pelgrims ’n vreemde vasteland met onbekende gebruike, kulture en gelowe beleef het.

Saam gelag en bang was. Die voedselvergiftiging wat jy in ’n stampvol jeughostel oorleef het.

Hoe ons as gestrandes ’n saamrygeleentheid by ’n Serwiese trokbestuurder gebedel het, elders viseierstokke moes afwurg, by ’n ruïne van ’n atoombom gestaan het, verwonderd na Indiaanse sang-en-tromspel geluister het, spontaan by ’n betoging in Hongarye aangesluit het, in die sneeu in Lapland rendier-steaks gebraai het, Mormoonse spookdorpe verken en by Leonard Cohen se graf gestaan het.

Jou lewensskildery moet ’n ryke verhaal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article