“ ’n Mens kan nie meer op die polisie (of die regstelsel of die poskantoor of die treindienste of die bankwese of die kafee) vertrou nie”.
Sulke uitsprake kom gereeld in gesprekke voor.
Elkeen het ’n eiertjie te lê oor ’n nagmerrie-ondervinding in ’n hospitaal, ’n staatsdepartement, ’n winkel van ’n eens bekwame kettinggroep – wat die vertroue in die mensdom skok.
Volg ’n mens die hoofstroom-nuusgebeure, is dit moeilik om voortdurend die goedheid in die mensdom raak te sien.
Dit is niks nuuts nie; vanuit die vroeë geskiedenis waarsku die psalmdigter reeds om nie op prinse, op die mensekind, te vertrou by wie daar geen heil is nie.
Die vertroue in die mensdom – die vaste geloof, sekerheid of gerustheid met betrekking tot die betroubaarheid van ’n bepaalde aspek – is glo steeds aan die taan.
’n Onlangse aanlyn opname wat in 30 lande deur die internasionale marknavorser Ipsos gedoen is, toon aan dat slegs 30% van volwassenes meen dat die meeste mense vertrou kan word. Volgens die opname dink slegs 16% van volwassenes in Suid-Afrika dat die meeste mense vertrou kan word, terwyl die hoogste persentasie van vertroue in Indië en China gevind is X albei met 56%.
Daar kom dae dat jy die mensdom blindelings moet vertrou: wanneer jy in ’n bus of taxi klim, wat reeds ’n slegte naam het; as voertuigbestuurder die pad met duisende ander deel; op ’n operasietafel lê; ’n belegging doen. Of vir ’n kind in ’n ver land, meer as 13 000 km weg soos die kraai vlieg, noodsaaklike voorgeskrewe medikasie stuur.
Al maak ’n mens kennis met die gesig en die naam van die een agter die koeriertoonbank, is die res van die mense wat die kosbare pakkie hanteer, onbekend – hul gesigte, hul name, hul ligging.
Jy volg die elektroniese spoor van die pakkie, en dae later, met die boodskap “delivered”, wil jy tog glo dat ’n mens ander nog kan vertrou; al is dit blindelings.


