’n Vrou wat in 2018 na bewering die dood van haar ma veroorsaak het deurdat sy deur haar woonstelmuur in Cassandra, Kimberley, gery het, oorweeg ’n pleitooreenkoms met die staat.
Lizette Tempelhoff (45), wat deesdae in Sedgefield in die Wes-Kaap woon, word van strafbare manslag, dronkbestuur en in die alternatief van roekelose en nalatige bestuur aangekla nadat sy op 14 November 2018 met haar Audi Q5 op ’n openbare pad gery het. Sy het na bewering die dood van Isabella Elizabeth Viviers veroorsaak deurdat sy deur die woonstelmuur gery het.
Tempelhoff het Dinsdag (18/07) weer in die streekhof in Kimberley verskyn. Riaan Bode, haar regsverteenwoordiger, het gesê hulle onderhandel met die staat oor ’n moontlike pleitooreenkoms.
Die voorval het destyds opslae gemaak en bure het beweer die vrou het omstreeks 02:00 met haar motor deur die motorhuis se muur gebars. Die motorhuis is in ’n tuinwoonstel omskep. Die oorledene is glo van haar bed af gery. Hulle het bevestig die oorledene is Tempelhoff se ma.
Tempelhoff se man wou destyds nie met joernaliste praat nie en gesê sy vrou se foon is afgeskakel. Sy sou glo later praat wanneer sy beter voel. Buite die huis het die stukke van die buitemuur binne en buite die motorhuis gelê. Hangkaste was dieper in die vertrek sigbaar.
Adv. Cornelia Deetlefs kla aan.
Streeklanddros C. Kgopa het die verhoor tot 29 Augustus uitgestel.




