Die strafpuntstelsel vir verkeersoortredings wat daartoe kan lei dat bestuurders hul rybewys verloor, voldoen aan die vereistes van die Grondwet.
Só het die konstitusionele hof verlede week beslis en ’n uitspraak van verlede jaar van die hooggeregshof in Pretoria tersyde gestel.
Die hooggeregshof het verlede jaar bevind dat die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto) en die Aarto-wysigingswet ongrondwetlik en ongeldig is.
Dié uitspraak is gelewer in die guns van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa).
Outa het ook die nuwe aansoek ingedien waarin die konstitusionele hof gevra is om die hooggeregshof se uitspraak van verlede jaar te bekragtig.
Hoofregter Raymond Zondo, wat die eenparige uitspraak geskryf en gelewer het, sê die konstitusionele hof weier om die bevel van die hooggeregshof te bekragtig en wys Outa se aansoek van die hand.
Stefanie Fick, uitvoerende direkteur van Outa, sê hoewel hulle teleurgesteld is met die beslissing, sal hulle by die uitspraak berus.
“Hoewel Aarto geldig en grondwetlik is, is dit steeds onprakties. Outa is al baie jare uitgesproke in kritiek op Aarto, wat ons glo nie die epidemie van padsterftes en –beserings doeltreffend sal aanpak nie.”
Outa glo dat maatreëls om padveiligheid te verbeter en sterftes te verminder dringend nodig is.
“Ons glo nie dat die Aarto-wet dit sal bereik nie; dit is nie prakties moontlik nie. Suid-Afrika het doeltreffende prosesse nodig wat deur regverdige beoordeling moontlik gemaak word wat aan die Grondwet voldoen.”
Die departement van vervoer het die uitspraak verwelkom. Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, sê die Aarto-wet is belangrik vir ingryping in padverkeerswetstoepassing.
“Die instelling hiervan is reeds 25 jaar hangende. Hierdie beslissing baan die weg vir die instelling van Aarto. Ons sal vinnig beweeg om die instelling sonder versuim oor die land heen uit te voer.”
Só sal dit werk
- Motoriste begin skoon en kry strafpunte vir oortredings.
- Strafpunte kan ophoop tot ’n maksimum van 15 punte.
- Sodra ’n motoris 15 strafpunte oorskry, kan sy of haar rybewys vir drie maande opgeskort word elke keer dat dit oorskry word.
- Strafpunte word elke drie maande met een punt verminder as daar geen oortredings in daardie tydperk was nie.
- Indien ’n motoris se rybewys meer as twee keer opgeskort is, word dit kanselleer en moet ’n leerlingrybewys weer gekry word.
- Programme om motoriste te rehabiliteer sal inwerking gestel word.
- Motoriste sal ingevolge die wet die bevindings of straf voor ’n onafhanklike appèltribunaal kan betwis.




