Die swak padtoestande op die R380 tussen Kathu en Hotazel. Ná vier jaar se konstruksie is die besige roete steeds onvoltooid.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Boere en inwoners tussen Hotazel en Kathu is radeloos oor die swak padtoestande, druk verkeer en onuithoudbare stofwolke weens die onvoltooide konstruksie van die R380-roete.

Die gebrek aan antwoorde van die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke vererger die situasie.

Ná vier jaar se konstruksie is die besige roete steeds onvoltooi en dié pad en ’n alternatiewe grondpad “voos gery en lewensbedreigend”.

Die swak padtoestande op die R380 tussen Kathu en Hotazel. Ná vier jaar se konstruksie is die besige roete steeds onvoltooid.

Iemand is Saterdag (15/07) in ’n ongeluk op die R380 dood in ’n botsing tussen ’n passasiersvoertuig en ’n ertsvragmotor. Volgens Kuruman Accident and Emergency News het die ongeluk tussen Kathu en Deben gebeur. Die motor het aan die brand geslaan en die insittende is op die toneel dood verklaar. 

Druk verkeer van 26 myne
Die druk verkeer word veroorsaak deur die ligging van 26 mangaan- en ystersertsmyne vanaf Hotazel tot by Postmasburg.

Grantham Steenkamp, DA-LW, sê die departement is veronderstel om ekonomiese aktiwiteit en dienslewering te stu deur provinsiale paaie te onderhou.

“Maar een kykie na die gevaarlik vervalle toestande bevestig die departement kom nie sy kernmandate na nie. Stukke pad wat meer slaggat as teer is, verbleikte padverkeerstekens wat nie ontsyfer kan word nie en swak beligting dra tot padongelukke by. Swak padtoestande skrik toeriste en moontlike beleggers af. Die departement is nie opgewasse om padonderhoud te doen nie.”

Eben Antonissen, ’n radelose boer, sê georganiseerde landbou probeer om met belanghebbendes te onderhandel dat meer erts op vragtreine as vragmotors vervoer word. Hy weet egter nie wanneer, en of, dit ’n werklikheid gaan word nie.

Intussen het twee kontrakteurs die konstruksieterrein op die R380 verlaat. Sedert Desember 2022 het die konstruksiewerk van meer as R200 miljoen stilgestaan, terwyl daar beloftes was dat die werk verlede jaar klaar sou wees.

“Dit lyk of ‘n kontrakteur nou weer begin werk. Slaggate op die tydelike ompad langs die teerpad se slaggate word stadig herstel. Die halfvoltooide teerpad is lewensgevaarlik want bestuurders van motors, bakkies en swaarvoertuie kan mekaar weens digte stofwolke nie raaksien nie. Die stofwolke bemoeilik landboutoestande wanneer weiding onder dik lae stof lê.”

Die departement het ondanks verskeie versoeke nie antwoorde aan inwoners gegee oor hoe die beskikbare R260 miljoen, waarvan deels van omliggende mynmaatskappye bekom is, op die konstruksiewerk bestee is nie.

Antonissen sê die R3336-grondpad tussen Deben, noord van Kathu na Hotazel wat as alternatiewe roete gebruik word, is ook voos gery.

“Ander plaaspaaie ook, en boere ly daaronder. Dit is vol slaggate en baie nou weens plante wat dit oorgroei het. Daar is ook etlike skerp draaie in die pad.”

Die departement skraap grondpaaie ongereeld. Antonissen vrees dat selfs al word die R380 voltooi, die R3336 nie herstel word nie en in ’n swak toestand gelaat word.

“Sommige mynkontrakteurs en boere skraap nou self die pad, of skenk diesel vir die skrapers. Ons druk ook die departement om die grondpaaie weekliks te skraap.”

Onmoontlik om vee te skuif
Ander boere kla dat padkontrakteurs heinings en hekke beskadig. Dit het onmoontlik geword om vee oor die pad te skuif. Daar is gruisgroewe gegrawe wat ongerehabiliteer staan en gevare inhou. Nog ’n boer sê daar is geen wetstoepassing deur owerhede nie.

“Mynkontrakteurs moet ingevolge wetgewing permitte kry om abnormale groot grondverskuiwings­toerusting op platbakvragmotors op openbare paaie te vervoer. Sommige ry met die mynvragmotors op openbare paaie tussen mynterreine en skop enorme stofwolke op.”

Die departementele woordvoerder het ondanks verskeie versoeke nie kommentaar of antwoorde op vrae verskaf nie.

Die departement het in die vorige geldjaar ’n gekwalifiseerde ouditmening met aanbevelings gekry. Hy het die afgelope jaar op sy Twitter-blad terugvoering oor verskeie padprojekte geplaas, maar niks oor die vordering van die R380-konstruksie nie. Boonop is dr. Johnny Mackay, die departementshoof, ook ’n aangeklaagde in ’n strafsaak.

In haar onlangse begrotingstoespraak het LUR Fufe Makatong erken die ouditeur-generaal het ’n gebrek aan projek- en kontrakbestuur in sy ouditmening uitgewys.

“Kontrakbestuur sluit die bestuur van verkrygingsprosesse in. Ons moet beheer uitoefen oor die kontraktuele reëlings tussen die departement en belanghebbendes om doeltreffendheid en waarde vir geld te bevorder.

“Ons is van plan om ons interne beheer te versterk en die kontrakbestuursfunksie af te dwing, beheermaatreëls toe te pas om die nie-nakoming van projekkoste en tydraamwerke te verminder, en swak projeklewering, litigasie, en laat instelling van vaardigheids­programme te verbeter.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article