Die eienaar van Pyramid Jewellers in die North Cape Mall in Kimberley bied ’n beloning van R10 000 aan vir betroubare inligting nadat sy winkel Dinsdagoggend (18/07) deur vyf gewapende mans beroof is.
Die eienaar, wat nie sy naam wil publiseer nie, sê die rowers het ’n wesenlike aantal stukke juweliersware gevat.
“Ek bied die beloning aan enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en veroordeling van die skuldiges.”
Hy doen reeds 20 jaar besigheid in die betrokke winkelsentrum en is sedert 1984 in die bedryf in Kimberley.
Hy was nie by die winkel toe die rooftog plaasgevind het nie, maar het dadelik daarheen gegaan toe hy die berig kry.
Meryl Rucastle, een van die werknemers, sê hulle was drie wat in die winkel gewerk het.
“Kort ná 10:00 het vyf gewapende mans die winkel ingekom. Hulle het ons selfone en paniekknoppies gevat en ons agter in die kantoor ingedwing en beveel om te sit. Ek wou nie en was heel parmantig totdat die een rower sy vuurwapen oorgehaal en my gedreig het. Hy het gesê hy is nie van hier nie, en skiet maklik. Toe sit ek.
“Hulle het alles in die vertoonkaste in die venster en by die toonbank gevat. Dit was alles van ringe tot horlosies, armbande en oorringe. Die glaskaste is met skroewedraaiers oopgebreek.
“Dit het sowat 20 minute geduur voordat hulle klaar was. Hulle is by die deur uit, en ons kort daarna. Ek het in die sentrum gehardloop en gesê mense moet die polisie bel, wat sowat 15 minute later opgedaag het. My ander kollega het agter die rowers aangehardloop, wat na die agterkant van die sentrum na die parkeerterrein beweeg het. Die rowers het naby die skryfbehoeftewinkel twee skote op hom en ’n sekuriteitswag gevuur.”
Sy sê haar twee kollegas is te getraumatiseerd om terug te keer werk toe.
“Ek is darem kalm, want die rooftog was nie so erg soos die een in 2009 in Kathu waar 25 mans die winkelsentrum waar ek toe gewerk het, bestorm en wild en wakker geskiet het nie.”
Mense met inligting oor die rowers kan die winkel by 053-832-2805 bel.




