Hofsittings in Galeshewe in Kimberley wat gewoonlik in etlike hofsale geskied, het tot stilstand geknars nadat die departement van arbeid die gebou verlede week weens veiligheidsredes gesluit het.
Intussen moet hofsittings, wat wissel van strafsake en siviele sake, tot sake wat behels interdikaansoeke, teistering, huishoudelike geweld, gesinshof en onderhoud in een opslaangebou by die Witdam-polisiekantoor in Galeshewe gehou word.
Ander opslaangeboue word vir administrasie gebruik.
Die hofgebou, wat aan die nasionale departement van paaie en openbare werke behoort en deur die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling gebruik word, is tot verdere kennisgewing gesluit.
Dit het gespog met die nuutste tegnologie om getuies en klaers te beskerm.
Teboho Thejane, woordvoerder van die departement van arbeid, sê die gebou is op 13 Julie deur ’n inspekteur besoek.
“Sy het krake in die struktuur van die gebou opgemerk en ’n kennisgewing uitgereik. Die krake is sigbaar in die pilare, vloere, mure en balke. Dit is onbekend hoe lank die gebou gesluit gaan wees.
“Belanghebbendes, kenners en strukturele ingenieurs moet ’n ondersoek doen. Hulle sal in samewerking met die nasionale departement van paaie en openbare werke besluit wat gedoen moet word.”
Intussen sê Victor Phala, woordvoerder vir die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling, dat alle hofbedrywighede by die polisiekantoor in opslaangeboue plaasvind.
“Ons werk hard saam met die betrokkenes om die strukturele probleme wat in die kennisgewing uitgewys is op te los. Ons vra verskoning vir die ongerief.”
Die woordvoerder van die nasionale departement van openbare werke het nie op versoeke om kommentaar reageer nie.
Radebe het destyds met die opening van die gebou die betrokke departemente bedank dat hulle die hof nader aan die gemeenskap gebring het.
“Kimberley het ’n bevolking van meer as 250 000 en die hof in Kimberley kon nie byhou met al die hofsake nie. Die werkslading het ons genoop om die gebou by die mense te bou, wat ook vervoerkoste in ’n groot provinsie met uiterste temperature bespaar.”
Shaine Griqua, direkteur van die Shaine Griqua Advies- en ontwikkelingsentrum, sê dié niewinsgewende organisasie wat regsdienste aan gemeenskapslede verskaf, is bekommerd oor die situasie.
“Kort nadat die gebou gesluit is, is regsdienste onder die bome gelewer. Ons hanteer soms geslagsgeweldsake en bied ondersteuning aan klaers wat vir hul lewe vrees.”
Hy het ’n brief aan die Kommissie vir Geslagsgelykheid (CGE) gestuur om hul vrese te lug.
“Ons is bekommerd oor die veiligheid van dossiere, veral in verkragtingsake. Wat is die risiko’s vir personeel, werknemers en kliënte?
“Ek het die kommissie versoek om ook ondersoek in te stel om ons vrese te besweer. Een daarvan is die waardigheid van werknemers en klaers wat nie beskerm kan word nie. Ons is bekommerd, want ’n hof kan nie op dié wyse funksioneer in ’n land waar geweldsmisdaad gedy nie.”





