Sy was by die wasgoeddraad besig toe die huistelefoon lui. Dit was die dae voordat selfone so algemeen was.
Kort nadat dit begin lui het, het dit opgehou.
Hul sesjarige dogtertjie het ’n paar minute later langs haar kom staan.
“Ek het die telefoon opgetel toe dit gelui het. Dit was ’n baie Engelse oom. Hy het gesê hy sal weer later bel,” het sy saaklik verduidelik.
Dit was waarskynlik die jaarlikse oproep wat hulle van die vorige eienaar gekry het om navraag te doen oor die posstuk vir die hernuwing van sy voertuiglisensie.
“Dit was seker omie Perreira,” het die ma ingedagte geantwoord.
“Ek het nie sy nommer nie. As hy weer skakel moet jy my roep.”
Die dogtertjie het haar kop geskud.
“Hy het vir my gesê wat sy naam is, maar dit was nie omie Perreira nie. Dit was iets met ’n mmmm.”
Die ma kon nie aan iemand anders dink wat hulle sou soek nie. Dalk het die persoon die verkeerde nommer geskakel.
Sy was klaar met die wasgoed en hulle het saam die huis ingestap. Die dogtertjie is na haar kamer en die ma het begin skottelgoed was.
’n Paar minute later was die dogtertjie terug in die kombuis.
Sy het breed geglimlag.
“Ek onthou nou wat die oom se naam was wat gebel het.
“Mr Perreira.”
Sy het omgedraai en baie trots weggestap.
“Sien, ek’t gesê dis iets met ’n mmmm.”




