Inwoners van wyk 1 in Roodepan en Platfontein staar weer ’n tussenverkiesing in die gesig nadat die ANC-raadslid vyf maande ná ’n tussenverkiesing waarin hy as raadslid van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley verkies is, bedank het.
Die ANC het ’n meerderheid van net een setel in die raad.
Ferguson Moses gaan hom nou glo by die Patriotiese Alliansie (PA) aansluit. Thoko Riet, munisipale woordvoerder, het sy bedanking en die vakante posisie bevestig.
Sharifa Ferris, die PA se provinsiale voorsitter, sê Moses het hulle sowat ’n week gelede genader.
“Hy is skugter om te openlik te praat, want hy vrees viktimisasie. Hy is reeds baie skeldname genoem ná sy bedanking. Tydens sy dienstermyn het hy ook gevoel hy word geminag. Roodepan se mense tel net wanneer die ANC stemme benodig, andersins kry ander woongebiede voorkeur as dit by dienslewering kom. Moses het vir ons gesê hy is ontnugter met die ANC se leë beloftes aan inwoners van Roodepan en Platfontein.
“Daar het niks van beloftes gekom om die rioolprobleme in Roodepan, en Platfontein se elektriese probleme op te los nie. Hoewel hy hard baklei het om diensleweringsprobleme in wyk 1 op te los, is ander woonbuurte voorgetrek.
“Sy bedanking sal ’n tussenverkiesing afdwing, en ons sal gereed wees. Die ANC het baie om te verloor. Hulle sal seker nou weer staatsdepartemente na Roodepan toe stuur om skielik dienste te lewer, want hulle doen dit altyd voor ’n tussenverkiesing.”
Die ANC het intussen sy ontsteltenis oor Moses se bedanking uitgespreek. Tshepo Louw, ANC woordvoerder van die Frances Baard-streek, sê hulle en die gemeenskap het Moses vertrou.
“Ons is egter nie verbaas oor die bedanking nie. Ons het sy opportunistiese gedrag waargeneem, sy liefde vir selfverryking en rassepolitiek. Sy gedrag het die ANC-manifes en -belofte wat hy as ’n openbare verteenwoordiger afgelê het, heeltemal ondermyn. Ons verwerp dit. Ons praat dit glad nie goed dat ontplooides hul eie stiksienige belange voorop stel nie.”
Die party sal steeds hard werk en hulself verbeter om diensleweringsprobleme op te los en bedank die kiesers wat voorheen vir hom gestem het.





