“Ek doen dit omdat daar so baie vir my gedoen word; omdat ek so baie kry.”
Aan die woord is Allen Visagie (47), sedert 2016 ’n inwoner by die Sally Aucamp-tehuis vir volwassenes met liggaamlike gestremdhede, geleë in die Cassandra-woonbuurt van Kimberley.
Visagie het verlede week op Mandela-dag ’n sop-en-brood-uitreiking vir die wagtendes by die Beaconsfield-kliniek onderneem.
“Ek het ’n droom gehad om die sop en brood uit te deel. Die ywer van die volgende persoon was daar en dit het my projek beter gemaak as wat ek dit op my eie kon doen. Die droom van my is bewaarheid,” vertel hy.
Ná Visagie op die uitreiking besluit het, het hy vir Rina Groenewald van die NG kerk Dutoitspan gekontak wat hom ondersteun het om sy droom te bewaarheid.
Op sy Facebook-blad skryf hy dat dié eenvoudige koppie sop en brood ’n glimlag op mense se gesig geplaas het.
Tydens die uitreiking was daar onder andere twee kinders wat sop en brood gekry het.
“Die gedagte het by my opgekom dat die sop en brood dalk hul enigste ete vir die dag was. Ons het verder uitgereik en dit wat oorgebly het, na die kinders se huis geneem.”
Daar, vertel hy, was die ouma by wie die kinders bly, oorstelp van blydskap. Sy het gesê sy het nie geweet wat sy en die kinders die aand sou eet nie.
“Reik uit. Maak tyd om uit te reik. Mense kry swaar,” sê Visagie en beklemtoon weer hoe goed dit vir hom is om terug te kan gee.
Hy vertel dat hyself onlangs die ontvanger van nuwe batterye vir sy battery-aangedrewe rolstoel was – batterye met ’n waarde van etlike duisende rande.
“In my lewe het ek byna elke sekonde, elke minuut iemand nodig om my te help. Ek het nou net ’n vrugtesappie en tjips geniet Z ek het iemand nodig gehad om dit vir my oop te maak.”
In Januarie het hy in die Pep in Beaconsfield die gevoel gekry dat hy op daardie dag iemand gaan help.
Dié dag het hy volledige stelle skoolklere en ’n boeksak vir ’n gr. 2-seuntjie gekoop wie se ouma dit nie kon bekostig nie.
Die kind se blydskap oor veral sy splinternuwe skoene sal Visagie altyd bybly.
Volgens hom het hy gewonder of foto’s van hom tydens die sopuitreiking geneem moet word, maar het toe besluit: “Ek wil juis hê ander moet sien: Ek is in ’n rolstoel, en ek kan en wil gee.”
Visagie, oorspronklik van Upington, was in die tagtigerjare ’n leerling aan ’n skool in Kimberley, wat nie meer bestaan nie.
In 1987 is hy terug Upington toe. Daar was hy vanaf 2001 by die plaaslike radio-stasie betrokke. Hy het onder meer ’n reeks gedoen oor hoe om ’n persoon met ’n gestremdheid te hanteer.
“Die woorde ‘ag shame’ is die lelikste woorde ooit wanneer ’n mens van ’n persoon met ’n gestremdheid praat,” sê hy.
Hy vertel ’n voordeel van betrokkenheid by ’n gemeenskapsradio-stasie is dat jy weet wie jou buurman is; jy ken jou luisteraar.
By die stasie is daar met uitreikingsprogramme begin omdat die behoefte van die gemeenskap identifiseer is.
“Dit is waar die passie vir uitreiking begin het,” vertel hy.
Een van die dinge wat vir Visagie, die inwoners se verteenwoordiger op die raad van direkteure, na elke dag laat uitsien, is om die inwoners gemaklik in hul omstandighede te sien.
“Ek is dankbaar dat ek die mondstuk vir hulle kan wees.”
Die sopuitreiking is inderwaarheid namens almal by Sally Aucamp gedoen, sê hy,
“Ons is geseënd hier by Sally Aucamp; en ons reik ook uit,” sê hy.
“Luister na jou hart. As jy die ou wat jy elke dag by die verkeerslig sien, vandag op ’n ander manier raaksien, reik net uit.
“Jy kan nie dink hoe groot ’n verskil dit maak nie.
“Armoede het nie meer kleur of ras nie. Daar waar ons kan help, moet ons help.”




