’n Haelgeweer van die vermoorde André Scholtz (76), ’n deeltydse pekanneutboer van Christiana, is in die besit van ’n man gevind wat in Pretoria vasgetrek is.
Scholtz se lyk is op 1 April in sy huis op sy kleinhoewe aangetref. Lt. kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die moontlikheid dat dié persoon by die moord betrokke was, word ondersoek.
’n 27-jarige Mosambieker is in April in verband met die moord in hegtenis geneem.
Scholtz se dogter, Tandi Nel van Kempton Park, sê die man wat met haar pa se haelgeweer in sy besit betrap is, beweer hy het dit “opgetel”.
Sy sê die familie is dankbaar dat van die verdagtes agter slot en grendel is en vir die moeite wat die polisie doen om haar pa se moordenaars vas te trek.
Vermoedelik drie mense het die aand van 31 Maart by haar pa se huis op sy kleinhoewe ingebreek.
Nel sê sy verneem die man wat in Pretoria vasgetrek is, praat beter Engels as die verdagte wat reeds in verband met die moord in hegtenis geneem is. Dié verdagte word in Kimberley aangehou en het al ’n paar keer in die hof verskyn.
Nel en haar broer, Tiaan Scholtz van Boksburg, het vroeër gesê volgens die lykskouingsverslag het hul pa versmoor.
Hy was vasgebind en ’n lap was in sy mond gedruk. Daar was ook ’n wond aan sy kop.
“ ’n Handwapen en haelgeweer is gebuit, terwyl ander wapens gelos is. Al drie die kluise in sy huis het oopgestaan toe die misdaad ontdek is,” het Nel vroeër gesê. Sy het die Vrydagaand nog telefonies met haar pa gepraat.
“Hy het gesê hy sou Saterdag weer bel. Toe my broer Saterdag vir hom boodskappe op WhatsApp stuur en sien dat hy dit nie lees nie, het hy onraad vermoed.
“Hy het my pa se suster, Ina Herbst, wat ook in Christiana bly, na sy huis gestuur.
”Toe sy daar aankom, het die voordeur oopgestaan. ’n Buurman het ook kom kyk en is alleen die huis in. Hy het in ’n slaapkamer op Scholtz se lyk afgekom.




