Hoewel ’n mens vanaf verlede week duidelik kon voel dat die lente op pad is, met botsels op kaal takkies en selfs hier en daar ’n vroegtydige bloeisel, is die koue van die winter nog nie verby nie.
Die afgelope naweek se ysige weer oor die hele streek heen, met ’n wind vanuit die suide, het deeglik aangedui dat handskoene en jasse nog vir ’n rukkie deel van ons kleredrag gaan wees.
Die weervoorspelling vir die hoofstad van die Noord-Kaap, en twee prominente dorpe in die streek, is soos volg:
Kimberley
Vandag sal Kimberliete vir die hele dag lank ’n jas of baadjie dra met die maksimum temperatuur op 13 °C, en op Dinsdag sal die kwik effens styg na ’n maksimum 16 °C. Vir die res van die week word minimum temperature van bo vriespunt voorspel, met ’n maksimum van 27 °C vir Sondag. Die wind sal die week waai, en die windspoed word voorspel as tussen 9 km/h tot 28 km/h.
Kuruman
Hier behoort inwoners vanaf Woensdagoggend effens warmer met die opstaanslag te kry, met die maksimum temperatuur wat geleidelik styg na die naweek.
Die maksimum windspoed vir vandag word as 19 km/h voorspel, met ’n gemiddelde maksimum van 28 km/h vir die res van die week.
Upington
Inwoners van die rivierdorp kan vandag ’n maksimum van 15 °C verwag, met die maksimum temperatuur wat eers Woensdag aan 20 °C raak en teen Sondag op 26 °C. Vanaf Woensdagoggend behoort die minimum temperatuur bo vriespunt te wees.
’n Windspoed van 9 km/h word vir vandag voorspel, met ’n windspoed van 19 km/h tot 28 km/h vir Woensdag en Vrydag 37 km/h.
- Verspreide donderbuie word vir Saterdag oor dele van die Noord-Kaap voorspel, met ’n volgende kouefront wat volgende week die land gaan bereik.
- Waarskuwings is ook uitgereik dat mense die windspoed in ag moet neem wanneer hulle vuur maak. Alle voorsorgmaatreëls moontlik moet geneem word om wegholbrande te voorkom.
Bron: weathersa.co.za





