John Block vroeër tydens 'n hofverskyning.
John Block tydens ‘n vroeëre hofverskyning. Foto: Charné Kemp/Argief

John Block, die veroordeelde gewese Noord-Kaapse ANC-leier en LUR, dring aan om onmiddellik op parool vrygelaat te word omdat hy vir presidensiële kwytskelding kwalifiseer.

John Block

Maandag (31/07) is sy regspan se betoë in die hooggeregshof in Kimberley in sy aansoek teen die departement van korrektiewe dienste aangehoor.

Dinsdag het Block ‘n suksesvolle borgtogaansoek gedoen in ’n afsonderlike bedrogsaak waarin hy van bedrog, korrupsie en geldwassery saam met twee ander aangekla is.

In dié saak word hulle beskuldig van tenderknoeiery toe die omstrede psigiatriese hospitaal in Kimberley gebou is.

Die gebou wat meer as 15 jaar geneem het om te voltooi, het uiteindelik meer as R2 miljard gekos, terwyl die aanvanklike begroting R230 miljoen was.

Block dien reeds ’n vonnis van 15 jaar uit vir korrupsie. Hy is skuldig bevind dat hy sy invloed gebruik het om duur huurkontrakte vir staatsdepartemente aan die Trifecta-maatskappy toe te ken en gunste in ruil hiervoor ontvang het.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi SC het namens Block in sy paroolaansoek aangevoer dat Block reeds in November 2018 by die gevangenis aangemeld het nadat sy appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis in die appèlhof gedeeltelik misluk het.

Sy skuldigbevinding op bedrog en geldwassery is ter syde gestel, maar hy is steeds aan korrupsie skuldig bevind.

Die vonnis van 15 jaar gevangenisstraf is bekragtig.

In Desember 2019, ’n jaar en een maand nadat hy sy vonnis begin uitdien het, het die president presidensiële kwytskelding aan sekere gevangenes gegee, en weer in April 2020. Block het albei kere gekwalifiseer.

Intussen het Block weldade by die tronk verrig deur die owerhede in kennis te stel dat die Xhosa-bewoording by die ingangsbord verkeerd en gevaarlik is omdat dit sê enigeen kan inloop.

Voorts het hy sy kontakte by die premier se kantoor gevra om sokkerklere en toerusting aan die gevangenes te skenk.

Hy het ook vier jaar lank ander gevangenes akademies onderrig.

Hy het sy weldade in ’n mislukte aansoek om parool genoem.

Block voer aan die onafhanklike ondersoeker wat namens die paroolraad opgetree het, was bevooroordeeld teenoor hom.

Hy het nie eens voor die paroolraad verskyn nie, en is ondanks navrae nie amptelik in kennis gestel van die weiering van sy paroolaansoek nie.

Eers nadat hy met regstappe teen die departement begin het, het hy ’n kennisgewing ontvang. Hy het nie administratiewe geregtigheid ontvang nie.

Hy het reeds ’n minimum tydperk uitgedien om in aanmerking vir parool te kom.

Die departement se wiskundige berekening van wanneer Block danksy die twee presidensiële kwytskeldings vrygelaat kan word, is verkeerd.

Amptenare gee hom ook nie korting vir die 13 maande wat hy reeds uitgedien het voor die eerste aankondiging van die presidensiële kwytskelding nie.

Die tweede aankondiging vir presidensiële kwytskelding is op 27 April 2020 gedoen, maar het eers in werking getree nadat dit op 8 Mei 2020 in die Staatskoerant verskyn het. Omdat dit op 8 Mei 2020 gepubliseer is, kwalifiseer Block om dadelik vrygelaat te word.

In ’n ander soortgelyke saak in Gauteng het die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste en minister erken dat die tweede kwytskelding op 8 Mei 2020 van krag is, maar in Block se aansoek hou hulle vol dit is op 27 April 2020 met die aankondiging bekragtig. Adv. Lesiba Maponya, namens die departement, het volgehou dat die berekening van wanneer Block in aanmerking kom om vrygelaat te word vanaf 27 April 2020 gedoen word. Dit beteken Block kan eers in Mei 2025 op parool vrygelaat word.

Hul berekeninge begin van die dag wat Block by die gevangenis aangemeld het. Die 13 maande wat hy voor die eerste presidensiële kwytskelding uitgedien het, kan nie as deel van kwytskelding bereken word nie. Sy weldade kan nie vroeë parool meebring nie. Slegs weldade wat sy lewe bedreig soos wanneer hy ’n ontsnapping, dwelmsmokkelary of die smokkel van vuurwapens in die tronk aanmeld, kan vroeë parool bring.

Die onafhanklike ondersoeker in die paroolaansoek was glad nie bevooroordeeld nie.

Regter Albert Nxumalo het uitspraak voorbehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article