’n Sesde maand sonder water staar inwoners van Warrenton in die gesig, met nie veel wat die afgelope 30 dae met die lê en koppeling van die hoofwatertoevoer­pype gebeur het nie.

Foto’s: Helena Barnard

Teleurstelling is uitgespreek dat die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, se onlangse besoek aan Kimberley nie ’n besoek aan Warrenton ingesluit het nie.

Inwoners van Warrenton, wat Warrenton-dorp, Warrenvale en Ikhutseng insluit, betree nou die sesde maand sonder water.

’n Sesde maand sonder water staar inwoners van Warrenton in die gesig, met nie veel wat die afgelope 30 dae met die lê en koppeling van die hoofwatertoevoer­pype gebeur het nie.

Marie Sukers, ACDP-LP, sê in ’n verklaring dat haar party verskeie kere met die ministerie kommunikeer het en vir dringende ingryping met die waterkrisis gevra het. Sy sê die party gaan namens die inwoners van Warrenton ’n klag by die Menseregte­kommissie oor die waterkrisis indien.

Dié dorp se hoofwatertoevoerpyp is in Februarie tydens die vloede beskadig en water kan nie van die waterwerkaanleg na die opgaartenks gepomp word nie.

Ná maande wat inwoners as politiekery beskryf met die waterkrisis ’n hefboom, is nie die korttermynoplossing vir watervoorsiening óf die permanente en meer volhoubare oplossing in so ’n fase van vordering dat hulle kan moed skep nie. 

Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering in die Noord-Kaap, het in Junie gesê  sy departement finansier die munisipaliteit met R5,5 miljoen om die waterkwessie op te los. 

Sukers sê haar party wag nog vir ’n antwoord op ’n versoek tot ’n oudit rondom die geskatte R90 miljoen-opknapping van die disfunksionele waterwerkaanleg.

“Ons is hoopvol dat die water teen einde Julie herstel sal wees,” lui ’n inskrywing op die Facebook-blad van die Magareng-munisipaliteit. In dié inskrywing word erken dat die vragmotors wat water aan inwoners moet verskaf, nie voldoende is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article