Die storie van Warrenton: Wagtend op water.

Foto: Verskaf

“Die straat is vol messtekery oor water – die mannetjies steek mes oor water. Wat moet ons nog oorkom, gemeenskap?”

Dit is die wanhopige stemboodskap wat op Woensdag 2 Augustus op ’n gemeenskapsgroep van inwoners van Warrenton in die Noord-Kaap geplaas is.

Die storie van Warrenton: Wagtend op water.

Messtekery oor water – of eerder die gebrek aan water – is lank reeds deur inwoners van Warrenton voorspel. Dié voorspelling het Woensdag in dié dorp teen die Vaalrivier waar geword; ’n dorp wat vandeesmaand die sesde maand sonder water ingaan.

Volgens ’n inwoner het twee jong mans van Warrenvale slaags geraak nadat gemoedere oor die voortslepende gebrek aan water, saam met die voortdurende  gewag en gewonder oor water, opgevlam het. Een van die jong mans is glo met verskeie meswonde in die hospitaal opgeneem. Die erns van sy beserings is nog nie bekend nie.

“Dit gaan nou rêrig hopeloos te ver. Ons plaaslike en provinsiale regering moes al ingegryp het ná die voorval maande terug toe die ouma en haar kleinkind op die N12 raakgery is oor weereens water – toe moes hulle al ingegryp het,” sê nog ’n inwoner.

“Ek voel daar is nog nooit ingegryp van die regering se kant af nie. Ons bly aan die kortste ent trek,” sê dié inwoner.

Teen die tyd dat ’n vragmotor met ’n watertenk in ’n woonbuurt opdaag, is die ry waterhouers so lank dat almal nie gehelp kan word nie.

Nog ’n inwoner, wat ook sê dat hy bakleiery oor water voorspel het, sê die waterkrisis in Warrenton maak van vriende vyande.

“En dit raak die hele gemeenskap,” sê hy, wat inwoners van Warrenton-dorp, Warrenvale en Ikhutseng insluit.

Dié inwoners is dit eens dat die Magareng-munisipaliteit nie vir sy mense omgee nie.

Vir die sesde maand moet inwoners van Warrenton in rye staan vir toegang tot water, wat as ’n basiese mensereg beskou word.

Fatima Seleke, ’n inwoner wat haarself beskryf as “een moedelose moeg vrou wat nie meer die pyn en lyding van mense kan vat nie”, sê die vroue van die gemeenskap hou Maandag ’n wettige en goedgekeurde opmars na die munisipaliteit.

Die opmars, wat om 08:00 vanuit Warrenvale begin, gaan deur lede van die polisie en verkeersafdeling vergesel word. Volgens beplanning gaan hulle om 10:00 die memorandum met griewe aan die munisipaliteit oorhandig.

Benewens die skending van basiese menseregte, frustrasie en die uiterse ongerief daarvan om ’n sesde maand sonder water te moet klaarkom, is hulle gegrief oor elektrisiteitstoevoer wat nou “wild en wakker” in die dorp onderbreek word.

“Ons is moeg; ons kry nie dienste van water nie. Nou sny hulle ons krag ook af,” sê Seleke.

Inwoners pak vir dae vooraf hul waterhouers in ’n ry om gevul te word. Elkeen skryf sy naam op sy houer.

Volgens inwoners wissel die redes waarom kragtoevoer onderbreek word, en ander vertel dat die bedrag wat jy moet betaal om dit weer aan te kry, van R100 tot R600 wissel.

“Dit hang af of hulle jou ken, en of hulle van jou hou,” sê die inwoner.

Nog een vertel dat volgens die munisipaliteit net onwettige verbindings afgesny word. Maar dit is nie waar nie, sê die inwoner.

Seleke sê hulle as vroue wil graag antwoorde by die munisipaliteit kry, want tot op hede kon politici nie vir hulle antwoorde gee nie; nog minder doen die plaaslike of provinsiale regering iets om hul nood te verlig.

’n Vroeëre navraag aan die Magareng-munisipaliteit oor die stand van die herstel van die hoofwatertoevoerpypleiding tussen die Warrenton-wateraanleg en die dorp se reservoirs is nog nie beantwoord nie.

Die hoofwatertoevoerpypleiding, wat deur die Vaalrivier strek, is in Februarie tydens die vloede beskadig. Sedertdien is die dorp sonder water.

Wat as politiekery beskryf word, word as die hoofrede gegee oor waarom die lê van die nuwe pyp ná maande steeds nie afgehandel is nie.

Die kunstenaar Vuyo Mayesa by sy kunswerk getiteld “Bitter truth of freedom”. Mayesa is ’n inwoner van Warrenton, en twee van sy kunswerke word tans in die William Humphreys-kunsgalery in Kimberley as deel van die jaarlikse Noord-Kaapse kunstenaarsuitstalling ten toon gestel. “Waterdromme en kruiwaens wys die storie van Warrenton. Ek is kwaad oor die verkoopspunt van demokrasie dat water gratis sal wees en ’n basiese mensereg is. Dit is nie in Warrenton nie,” sê hy. Sy ander kunswerk, “Majita a tender” handel oor die jeug se entrepreneurskap om geld te vra om namens iemand anders in die waterry te staan.

Jonger persone word per geleentheid deur bejaardes betaal om namens hulle water te gaan haal. Dit is vir bejaardes, wat reeds onder die broodlyn leef, bykans onbekostigbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article