In die syferwêreld waarin ek myself bevind, is ’n mens baie afhanklik van inligting wat aan jou deurgegee moet word.

Uiteindelik het ek tot die gevolgtrekking gekom dat daar, in hierdie verband, twee soorte mense bestaan.

Tregters en filters.

As jy inligting by ’n tregterpersoon aanvra en daardie een moet dit weer by ’n ander bron aanvra, kry jy dikwels onbruikbare inligting.

Die tregterpersoon kry inligting en stuur dit vir jou aan.

Sonder om dit te kontroleer. Sonder om seker te maak dat dit wel die bruikbare inligting is waarna jy soek.

Dit word net aangestuur. Soos ’n tregter waardeur jy vloeistof laat loop.

As jy inligting by ’n filterpersoon aanvra en daardie een moet dit weer by ’n ander bron aanvra, kry jy gewoonlik die inligting waarna jy op soek was.

Dit is die soort mens wat vir jou sal sê: “Ek het die faktuur aangevra waarna jy op soek was, maar hulle het vir my die kwotasie gestuur; ek wag net vir die faktuur en dan stuur ek dit vir jou.”

Hierdie opmerking spreek boekdele.

Dit beteken hierdie mens het die inligting bestudeer voordat dit vir jou aangestuur is.

Dié mens toon insig en inisiatief.

Dit spaar hope tyd en frustrasie aan jou kant. Anders moet jy teruggaan en weer die korrekte inligting aanvra.

Dankie aan al die filtermense.

Julle help om die uitdagings, waarvan daar reeds genoeg is, nie nog meer te maak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article