Senzo Mchunu
Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie. Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Die minister van water en sanitasie en die Noord-Kaapse premier het verlede week ’n werkskomitee saamgestel wat die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley gaan dwing om waterinfrastruktuur- en verspreidingskwessies op te los.

Dit kom nadat die DA ook verlede week aangekondig het hy het 13 drinkwaterlekplekke in die netwerkstelsel ontdek, hoewel hy vermoed daar is meer. Die opposisieparty dring aan dat die munisipaliteit dringend die herstelwerk aan die grootmaattoevoerpypleiding, wat twee keer uitgestel is, voortsit.

Senzo Mchunu, minister, en dr. Zamani Saul, premier, het Donderdag (27/07) indringende samesprekings met die munisipaliteit gehou oor die uitdagings, waarna ’n spesiale komitee gestig is.

Die bestuurskomitee bestaan uit ’n tegniese span van die departement van water en sanitasie (DWS) en die munisipaliteit, wat ’n omdraaistrategie moet saamstel. Die minister en die provinsiale uitvoerende komitee sal politieke oorsig doen.

Wisane Mavasa, departementele woordvoerder, sê die munisipaliteit as ’n waterdienste-owerheid is verantwoordelik vir afvalwaterbestuur en die hantering en retikulering van rou water.

Die departement het met roetine-inspeksies en interaksies met die munisipaliteit swak bestuur en instandhouding van water- en sanitasie-infrastruktuur geïdentifiseer. Dit dra by tot rioolstortings, waterlekkasies en onderbrekings in watertoevoer.

“Die departement het verskeie direktiewe (opdragte) uitgereik weens die storting van afvalwater vanuit die oorvol riool­netwerk en pompstasies na die Kamfersdam- en Platfontein-pan waar water opdam. Die munisipaliteit sê hy het finansiële uitdagings om die probleme op te los,” sê Mavasa.

Die komitee het ook ander kwelpunte bespreek, soos die hoë waterverlies van 64% weens verouderde grootmaat- en netwerk­stelsel-infrastruktuur. Dit bring ’n verlies aan inkomste.

Die minister eis dat die probleme opgelos word en dat water- en sanitasie­dienste moet verbeter. Die bedryf en instandhouding moet verbeter, en verlies aan water deur lekkasies en die veroudering van infra­struktuur moet hokgeslaan word. Inwoners moet skoon lopende water in hul huise kry.

Die minister en premier volg ook die vordering van die Vaal Gamagara Fase 2-projek, wat ’n gesamentlike onderneming is tussen die departement en die Noord-Kaapse Mynleierskapsforum. Die projek behels die aanlê van die 260 km-water­pypleiding van die Vaalrivier-pompstasie en sal die gemeenskappe van die John Taolo Gaetsewe-munisi­paliteit bedien.

Die minister wil ook die 7 600 emmertoilette in die provinsie, veral in die Campbell-omgewing in die Siyancuma-munisipaliteit, uitwis.

Ockert Fourie, DA-raadslid, sê hulle plaas druk op die munisipaliteit om dringend voort te gaan met die Kimberley-waterafsluiting, om agterstallige herstelwerk aan groot lekkasies te doen.

“Ons het 13 groot drinkwaterlekke ontdek, maar kon nie al die plekke bereik wat ons wou besoek nie omdat dit so moeras­agtig en met riete oorgroei is. Ons vermoed daar is meer lekplekke van drinkwater benewens die honderde medium tot klein lekplekke regoor die stad.”
Ockert Fourie

Hy meen die munisipali­teit onderbreek snags die watertoevoer om water te bespaar.

“Een van die lekplekke is in ’n pypleiding by die Newton-opgaardamme, waar dit die aangrensende Hoërskool Noord-Kaap se sportgeriewe al 13 jaar oorvloei. Dit veroorsaak groot skade aan die skool se swembad, netbalbane, veld en gebouestruktuur.”

Hy sê daar is ook ’n lekplek buite die Riverton-pompstasie en die water­suiweringsaanleg waar ’n waterpomp en sandsakke gebruik word om gevolge van die oorstromings te help versag.

“Water vloei ook uit ’n uitloper van die 600 mm-grootmaattoevoerpypleiding na boere langs die N12-roete. Die mere van vars water in die veld getuig van die groot volumes water wat vermors word.

“Die ontdekking van die lekplekke is in skrille kontras met ’n munisipale verslag wat verlede week uitgereik is waarin slegs na twee groot lekplekke verwys word. Óf die munisipaliteit ignoreer doelbewus die kritieke toestand van die stad se waterinfrastruktuur, óf hy het nie die kapasiteit om lekplekke te moniteer nie.

“Die munisipaliteit het vanjaar twee keer die geskeduleerde grootskaal-herstelwerk uitgestel weens swak beplanning en ’n gebrek aan kommunikasie.”

“As herstelwerk nie gou plaasvind nie, het inwoners met ’n ramp te kampe. Die munisipaliteit versuim om sperdatums te gee vir die wateropgradering- en herstelprojek, wat teenstrydig is met voorwaardes van die toelae van R2 miljard van die Waterdienste-infrastruktuurtoelaag.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article