Die inhuldiging van regter Almé Stanton as regter in die hooggeregshof in Kimberley is deur die regter-president beskryf as “verteenwoordigend en ’n voorbeeld van die land se diversiteit”.
Die inhuldiging op 21 Julie het ook in die gedenkjaar geskied dat vroue 100 jaar vantevore tot die regsberoep toegelaat is.
Regter-president Pule Tlaletsi het in sy toespraak gesê regters moet die waardes in die Grondwet nastreef. Die regsberoep kom ook onder toenemende druk uit politieke kringe. Regters moet sonder vrees of bevoorregting optree.
“Die regsberoep en regters word voortdurend getoets. Ons moet teen korrupsie optree en vertroue by gewone mense op soek na geregtigheid, inboesem. Natuurlik verwelkom regters ook konstruktiewe kritiek. Ons as regters is hier vir mekaar en steun op mekaar in die strewe na geregtigheid.
“Regter Stanton het uitgebreide opleiding en ervaring in Mahikeng en Bloemfontein, waar sy die Regsvereniging se uitvoerende hoof was. Daarna het sy in Bloemfontein en later Kimberley praktiseer. As ’n praktiserende advokaat het sy bewese en diepgaande ervaring.
“Sy het ook voorheen hier as regter waargeneem, en is bekend vir haar onbevooroordeeldheid, nederigheid en toewyding aan geregtigheid.
“Boonop toon sy wysheid en meelewing. Haar teenwoordigheid in ons divisie verryk ons; sy gaan ’n waardevolle bydrae lewer.”
Die lewe van ’n regter is “eensaam en vervelig” omdat regters te alle tye waardig en onpartydig moet optree en verseker dat niks teen hulle gebruik kan word nie.
Tlaletsi sê die sosiale media kan ’n valstrik raak vir diegene wat nie versigtig trap nie.
“Regter Stanton het ons volle ondersteuning en ek glo sy sal vervul voel en ’n groot bydrae lewer.”
Livingstone Sakata, Noord-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het in sy gelukwensing gesê regters se beslissings berus op feite en ’n kultuur van verantwoordbaarheid.
“Ons in die regsberoep beleef uitdagende tye, en ek glo regter Stanton se wye ervaring kan net tot waarde wees.”
Volgens adv. Thandisa Tyuthuza van die Vereniging van Advokate is hulle trots op Stanton wat die tweede wit, vroulike regter in die afdeling is.
“Die nuwe regter was ’n toegewyde advokaat wat almal met respek behandel het. Ons is dankbaar vir die bydrae wat sy tot ons beroep gelewer het, en dat sy as regter verder sal bydra.”
Divvie Pretorius van die Diamantveld Vereniging van Prokureurs sê Stanton het as praktisyn die belange van haar kliënte altyd eerste gestel.
“Ons sal haar mis, want sy was altyd voorberei en het opdragte deeglik bestudeer. Sy werk lang en harde ure.”
Die Black Lawyers Association (BLA) sê regters moet uitstekend beredeneerde uitsprake lewer. Adv. Boitumelo Babuseng het namens die organisasie gesê dit is nodig omdat regters deesdae onder kritiek van politici deurloop.
“Ons afdeling het ’n trotse geskiedenis dat ons onsself nie sal laat stuit as dit by geregtigheid kom nie.”





