Sy naam is Edward. Sy glimlag is breed, al is sy tande min.

Dit is bitter koud in die Oos-Vrystaat wanneer ek in sy klein dorpie parkeer.

Die oomblik dat ek die voertuig afskakel, is Edward by my venster.

Hy wil my voertuig was.

Dit is snerpend koud en die wind sny deur my, so ek bewonder sy ywer om dit wel te wil doen.

Ek bedank sy aanbod vriendelik.

Hy vra of ek bang is hy krap my kar. Hy sal nie. Hy sal mooi was.

“Nee,” sê ek laggend, “ek is glad nie bang jy krap my kar nie.

“Ek gaan wel nog grondpad ry hiervandaan, en dan help ’n skoon kar nou net mooi niks.”

Hy oordink so ’n bietjie wat ek sê.

Dan is dit asof hy verstaan, en hy lag met sy mond vol min tande.

“O,” sê hy, “so dit is pointless”.

“Dit is pointless, Edward,” antwoord ek vir hom.

“Ja, nee”, antwoord hy weer, “ ’n Mens moenie pointless werk en wees nie.”

Ek is al lank op die grondpad, toe kou ek nog aan sy opmerking.

Ons kan so maklik vergeet om doelgerig te werk.

Ons verloor so maklik fokus.

Dit het geen sin nie.

Ons moenie so doelloos besig wees nie.

Waarheen is jy op pad?

Waarvoor werk jy?

Wat is jou uitkoms?

Werk jy doelgerig?

Ons is soms sinneloos besig.

Ons mors soms ons tyd, ons geld, ons mense.

Wat is die punt van dit waarmee jy jou besig hou?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article