Ter viering van hul 70ste bestaansjaar hou die Sishen-rugbyklub dié naweek fees, met die SA Rugby Legends wat onder andere in aksie te sien sal wees.
Dié klub is onlangs weereens as die wenners van Griekwaland-Wes se Superliga-reeks gekroon – ’n prestasie wat hulle vanaf 2012 behaal.
As ’n nie-winsgewende organisasie samel die klub deur die fees geld in vir deelname aan die SA Rugby Gemeenskapsbeker later die jaar. Talle van die spelers is jong studente van voorheen benadeelde gemeenskappe soos Dingleton, Deben en Mothibistad.
Op Saterdag (12/08) om 10:30 vind ’n SA Rugby Legends-rugbykliniek vir sewe- tot 13-jarige seuns en meisies plaas.
Wedstryde begin om 13:00, met die hoofwedstryd tussen die Old Boys van die Sishen-rugbyklub en die SA Rugby Legends om 16:00. Talle musikante tree daarna op.
Vir meer inligting, besoek die Facebook-blad Sishen Rugby Klub.





