Soos met die meeste inwoners van die Noord-Kaap was die Engelse taal aan sy kant ook dun gesaai.

Hy het met ’n gesukkel die vak op skool deurgeworstel. Dat hy in die koshuis gebly het en naweke en vakansies saam met Oupa op die plaas deurgebring het, het nie veel waarde tot sy Engels toegevoeg nie.

Die hele gemeenskap, plaaswerkers ingesluit, het vlot Afrikaans gepraat.

Toe sy skoolloopbaan uiteindelik agter die rug was, het hy tot die polisiediens toegetree.

Ná sy opleiding is hy na ’n plattelandse dorp uitgeplaas.

Misdaad in alle vorme was aan die toeneem. Hy was skaars ingeburger of daar is besluit om ’n betrokke naweek ’n padblokkade te hou.

Die pad was besig. Hulle is deur allerlei uitdagings op hul tone gehou.

Laatnag het hulle ’n verdagte voertuig van die pad laat aftrek. Die bestuurder was Engels­sprekend.

Hulle het dwelms in die voertuig gekry en die bestuurder beveel om uit te klim.

Die jong polisieman was grotendeels by hierdie uitdaging betrokke. Hy het om die voertuig gestap en op die vermeende dwelmsmous afgepyl.

Voordat hy ’n woord kon sê, het die vreemdeling hom toegesnou: “On which ground do you arrest me?”

Die jong polisieman het effens verbouereerd rondgekyk, toe na die vreemdeling se voete gewys en met baie selfvertroue uitgeroep: “On the very same ground you’re standing on!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article