Die DA in die Noord-Kaap het Maandag (14/08) ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Kimberley ingedien om ’n hofbevel teen ANC- en EFF-raadslede van die Gamagara-munisipaliteit in Kathu te bekom nadat hulle verlede Dinsdag ná ’n onwettige mosie van wantroue teen Henriette du Plessis, DA-burgemeester, ’n nuwe burgemeester en speaker gekies het.
Du Plessis was skaars twee maande die burgemeester.
“Die mosie van wantroue teen Henriette du Plessis het die staande reëls van orde oortree en was nie eens op die amptelike stadsraadsvergadering se agenda nie,” sê Harold McGluwa, DA-leier in die Noord-Kaap.
Die amptelike raadsvergadering is dié dag verdaag nadat verskeie raadslede van die ANC en EFF oproerig geraak en die situasie te gevaarlik geraak het, sê Willie Aucamp, DA-kiesafdelingshoof van die Kalahari.
Hy sê die ANC het ’n paar weke gelede ’n aansoek om ’n mosie van wantroue teen Du Plessis ingedien.
“Maar die ANC het nie vir dié vergadering opgedaag nie en daar was dus geen kworum nie, wat beteken dat die mosie verval het.”
Aucamp sê die ANC het nie weer ’n mosie van wantroue ter tafel gelê vir die vergadering wat Dinsdag plaasgevind het nie.
Toe die speaker die versoek van die hand wys, het van die ANC-raadslede glo begin oproerig raak.
Aucamp sê die leiers en swepe van die onderskeie politieke partye, wat die ANC en EFF insluit, het die raadsaal verlaat en saam ooreengekom dat die vergadering moet verdaag omdat dit te gevaarlik geraak het.
Dit is nadat die vergadering verdaag het dat die ANC en EFF besluit het om op hul eie voort te gaan en ’n nuwe burgemeester en speaker in ’n onwettige vergadering te kies.
Hy sê die DA gaan nie toelaat dat die ANC op ’n onwettige wyse die munisipaliteit omverwerp vir politieke mag en politieke speletjies nie.
Du Plessis sê sy het van die onwettige vergadering bewus geword terwyl sy in haar kantoor was. Sy is om veiligheidsredes aangeraai om eerder huis toe te gaan en haar kantoor te sluit.
“Glo dit of nie, daarna is ’n slotmaker ontbied om my kantoordeur se slot te kom afhaal.”
Sy sê sy sal haar nie van stryk laat bring deur die gebeure nie. Sy het verwag dat ’n mosie van wantroue teen haar ingestel sou word.
Volgens haar kon haar verkiesing tot burgemeester nie op ’n beter tyd gebeur het nie.
“In hierdie kort tydjie kon ons mense wys waartoe die DA in staat is en wat ons in ’n kort tyd kan vermag.”
McGluwa het die aksies van die ANC en die EFF as ’n “coup d’état” (staatsgreep) beskryf en sê die DA sal nie onwettige magsvergrype duld nie.
Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris van die ANC in die Noord-Kaap, en die EFF in die Gamagara-streek het nog nie reageer op navrae oor die “onwettige optrede” nie.




