’n Eerbewys met sy ontstaan ná die gebeurtenis verlede jaar toe die sanger Mathys Roets ’n deel van ’n verlate pad in die Noord-Kaap in sy rolstoel aangedurf het, gaan voortaan ’n instelling word.
Roets se voertuig het op ’n grondpad naby Richmond gaan staan, en hy het ’n lang stuk grondpad alleen in sy rolstoel aangedurf om by ’n vertoning uit te kom – terwyl dit boonop besig was om donker te word.
Veiligheidswagte wat sekuriteitskameras in die landelike gebied beman, het hom op kameras gesien en hulp gestuur.
Die Mathys Roets-eerbewys van Hoop is onlangs aan die sanger en liedjieskrywer Prop en Edwin Nelson, die 18-jarige wat onlangs albei sy voete in ’n ongeluk verloor het, oorhandig.
Hulle is as hoopdraers tydens Solidariteit Helpende Hand se Afrison Liefde In Gestremdheid- (LIG) konsert in Pretoria vereer.
Phillip Bruwer, mediaskakelbeampte, sê dié eerbewys word aan mense met gestremdhede opgedra wat ’n inspirasie vir die gemeenskap is. Hy sê die eerbewys is verlede jaar ingestel, met die gedagte om Roets te vereer. Die eerbewys is so goed ontvang dat daar besluit is om dit ’n gereelde instelling te maak.
Prop, wat met pseudoachondroplasie (semi-dwergisme) leef en ook ’n argitek is, is vereer vir sy positiewe geaardheid en omdat hy iemand is wat uitdagings aanpak en volhard.
“Dit is nie net ’n erkenning van my gestremdheid nie, maar van al die mense wat met gestremdhede leef,” sê Prop oor sy eerbewys.
“Ons is nie spesiaal of vreemd nie, maar ons waardeer die erkenning dat ons elke dag in ’n wêreld moet leef wat nie by ons leefstyl aangepas is nie. Ja, ons is wel anders, maar ons doen ons bes en gaan aan. En as ons kan, kan jy ook.”
’n Emosionele Edwin sê hy het reeds op die ongelukstoneel waar sy lewe in ’n oogwink verander het, begin om die trauma te verwerk. Hy het in Mei beheer oor sy voertuig verloor en was twee uur lank in sy voertuig vasgekeer voordat hulp opgedaag het.
“Die ondersteuning wat ek van geliefdes en vreemdelinge, selfs van oorsee, ontvang het, was en is steeds oorweldigend. Dit het my aangemoedig om op te staan. Ek wou so gou as moontlik weer mobiel raak, en ses weke ná my ongeluk het ek begin om prosteses te gebruik,” sê hy.
Edwin sê hy hoop hy kan ander mense inspireer en die ondersteuning bied wat hy gekry het. Daarom het hy R10 000 aan Helpende Hand se studiefonds vir mense met gestremdhede geskenk.
Hy het nie die eerbewys verwag nie.
“Dit gee my meer selfvertroue omdat dit wys mense glo in my. Ek wil vir ander jongmense wys dat ek in hulle glo en ek hoop ek kan ’n verskil in hul lewe maak. Dit is maar net die begin van groot dinge.”
Suzette Oosthuizen, hoof van sentrums en die Forum vir Persone met Gestremdhede verduidelik die waarde van die eerbewyse.
“Mense met gestremdhede moet erkenning kry omdat hulle waardevol in die samelewing is vanweë hul unieke perspektiewe en talente.”
Die wenner van Helpende Hand se Sê jou Sê-kultuurkompetisie vir leerlinge met gehoorverlies is ook op die geleentheid bekend gemaak.





