Die Rooyspan het hul griepinspuiting gekry, waarop die kinders ’n maand lank voorberei is.

Dit vergelyk met ’n Mamma-knyp. Tot die rangorde is uitgewerk. Rooy-ouers het besluit die volgorde is oudste tot jongste om onnodige oorstimulasie van skreeuende kinders te vermy.

Pappa word aangesê om te staan vir sy inspuiting en sy arm te laat hang. Die klinieksuster is so goed, Rooypappa weet nie eens sy het gespuit nie.

Mamma knyp haar oë styf toe wanneer die naald haar linkerboarm prik. Boeta vra uit oor die naald, houer en glasampule en probeer koes uit die vertrekkie. Sy lyfwagpa weer hom af. Ouboet stel nie belang in die prentjie op die rekenaarskerm of die kleurryke ballonne op die almanak nie. Voordat die suster hom nog met haar nael teen die boarm kan skraap, skree hy al.

Hy probeer almal oorreed dat hy nie sal siek word nie en alles sal doen wat hom gesond hou.

Ouboet gil dat sy ouers sy mond wil toeplak. Niks troos hom nie. Sussie sit op ma se skoot vir haar beurt. Om aandag af te trek, draai die gesprek by Paw Patrol. Die suster vra wie haar gunstellingkarakter is en Jongste antwoord: “Mi-aaw”.

Sy vryf oor haar regterarm en klim van Mamma se skoot af.

Op pad bied Mamma Panado vir Oudste se seer arm aan, maar hy weier dit dikbek. Tuis sê hy aan sy pa om hom volgende jaar oor te slaan en dat hy glad nie beïndruk met hierdie voorkoming is nie. Sussie tel haar Yorkies op en loop singend kamer toe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article