Die vermeende bedrieër Phillip “Klippies” Krüger/Dieckmann (31) van Kuruman het Donderdag (17/08) in ’n tweede strafregtelike saak vlugtig in die hof in Prieska verskyn.
Hy het vroeër in Postmasburg in ’n afsonderlike saak verskyn op verskeie soortgelyke aanklagte van bedrog wat met sonkragpaneeldienste verband hou, sê polisiewoordvoerder, lt. kol Sergio Kock.
Dieckmann het in Prieska verskyn nadat hy op 16 Augustus deur die Niekerkshoop-polisie in hegtenis geneem is. In die eerste strafsaak wat teen hom ingedien is, het hy in Postmasburg verskyn. Sy volgende verskyning hier is op 7 September.
Dieckmann het reeds in Pretoria in ’n siviele geding verskyn waar die eiser meer as R100 000 en regskoste van hom eis. Verskeie klaers het klagte by polisiekantore in die Noord-Kaap, Vrystaat en Gauteng ingedien nadat hy na bewering bankdeposito’s vir sonkragstelsels aanvaar het maar nooit die produkte gekoop of dit by die klaers se huise aangebring het nie.
Die polisie het bevestig hulle ondersoek sake teen hom nadat klagte by polisiekantore in Kathu, Lime Acres, Postmasburg, Niekerkshoop, Pretoria, Windsorton, Trompsburg en Bloemfontein ingedien is, terwyl Mike Bolhuis ook 15 sake ondersoek.
Dieckmann se sonkragbesighede se name is e-Kalahari en Sica, en hy het die telefoonnommers 072-985-4727 en 072-956-8876 gebruik.
Sy saak in Prieska is vir borgtogaansoek na Donderdag (24/08) uitgestel.
Enigeen met inligting kan speurkonst. Eric Bantsheng by 082-350-6358 bel.





