Die wilde weghol (of is dit wegrol?) oor die wiel is met verbasing, gemeng met ’n skootjie ongesonde benoudheid, gadegeslaan.
Verbaas, want verlede week met die Facebook-plasing van die berig oor Keimoes se waterwiel wat oënskynlik tussen neus en vinger verdwyn het, het gemoedere hoog geloop – bloot op eie vinnige afleidings.
Benoud, want die Facebook-kommentaar het gewys dat dit nie net laerskoolkinders in Suid-Afrika is wat nie met begrip lees nie. Dit was duidelik dat talle volwassenes ook nie met begrip lees nie. Of glad nie lees nie.
Bloot met die lees van ’n tong-in-die-kies opskrif waarin aanhalingstekens boonop gebruik is (om aan te dui dat dit woorde is wat iemand so gebruik het), is besluit dat die wiel gesteel is.
Met kwaai gesiggies en kwaai woorde is kommentaar gelewer oor die swernote wat die wiel sou gesteel het.
’n Mens kon net jou oë na Tierberg opslaan en wens dat diesulkes net die berig met al die feite wou lees.
(Dan was daar iemand wat die media “wat berig is vir foute” wou aanspreek. “Berug” sou hier die regte woord gewees het.)
Volgens Beanfee, ’n aanlyn platform vir gedragsafrigting, is vluglees al hoe meer die norm. Mense lees al hoe vinniger, maar al hoe meer oppervlakkig omdat die toestel wat hulle gebruik die funksie het om vinnig deur teks te beweeg, of vinnig na ’n volgende onderwerp te spring.
Hoewel dit nodig is weens die magdom inligting op die sosiale media, skryf Beanfee, raak vluglees ongelukkig ’n gewoonte, en die akroniem “TL; DR” (“too long, didn’t read”) die norm.
Om slegs vluglees te beoefen, word kritiese en diepere denke benadeel, en die aandagspan verkort.
Boonop, aldus Time Magazine, het ’n studie van Microsoft aangedui dat mense nou ’n aandagspan van net agt sekondes het weens toenemende gebruik van digitale toestelle.
Dit is een sekonde korter as dié van ’n goudvis . . .


