Danksy die liefdeswenresep van die maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, het tientalle Suid-Afrikaanse boere sedert 2007 die liefde van hul lewe gevind.
So het die 15de seisoen wat vroeër vanjaar op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai is, aan drie van die vyf topboere liefde besorg.
Marciel Hopkins, gesoute aanbieder, sê sy is elke jaar van voor af opgewonde oor die nuwe mense wat sy gaan ontmoet, die mooi plekke in ons land wat sy sal sien en die liefdesverhale wat geskryf gaan word.
“Die afgelope 15 seisoene het bewys hoe mense se lewe kan verander wanneer hulle die regte maat vind om die lewe vorentoe mee aan te pak,” sê sy.
“Boer soek ’n vrou is ’n wonderlike platform. Ek sal enigiemand aanmoedig om in te skryf vir hul kans op liefde. Vir my lê die sukses van die reeks deels daarin dat daar genoeg tyd is vir deelnemers om mekaar beter te leer ken. Dit help wanneer belangrike toekomsbesluite geneem word.”
Boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat deel wil wees van die 16de seisoen, kan hulle nou inskryf.
Die tien topboere vir die 16de seisoen sal op 29 Oktober op kykNET aangekondig word. Voornemende pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
Die 16de reeks sal van 11 Julie 2024 af op Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai word.
Foto’s en afskrifte van Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel, en diegene wat wil deelneem moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
- Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 7 September bereik.
- Besoek kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai. Rig navrae by 079-614-2229 of stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com.





